• Home
  • Sport
  • Vroue-Eagles herstel ná eerste glips

Vroue-Eagles herstel ná eerste glips

Krieket
In die openingswedstryd het Uganda die Namibiërs vroeg reeds op die agtervoet gedwing.
Andrew Poolman

Die onoorwonne gasheerspan Uganda en Namibië se Capricorn Eagles het ná die eerste naweek as die toonaangewende spanne in die Victoria vierhoekige T20-vrouekrieketreeks in Kampala na vore getree.

Uganda het Vrydag die openingswedstryd teen Namibië met vier paaltjies gewen. Die Namibiërs is ingestuur om eerste te kolf en kon net ‘n beskeie 73 vir nege in hul 20 boulbeurte op die telbord plaas.

Paaltjiewagter Mezerly Gorases (11 van 4 balle; 2x4) het saam met kaptein Sunè Kotze-Wittmann (11 van 8 balle; 1x4 1x6) die kolfbeurt geopen, maar die Eagles het hul eerste vyf paaltjies met hul totaal op onderskeidelik 22, 22, 28, 28 en 36 verloor.

Geen grenshoue is in die laaste 18 boulbeurte geslaan nie, terwyl kolwer nommer drie Mekelaye Mwatile (2), Kayleen Green (4), Arrasta Diergaardt (5), Edelle van Zyl (5), Wilka Mwatile (6), Victoria Hamunyela (1) en Eveleen Kejarukua (3, uitgehardloop) dit nie kon regkry om enige gesag af te dwing nie.

Die totaal sou nog heelwat kleiner gewees het sonder nommer agt Naomi Benjamin se 20 nie uit nie van 33 balle, sonder ‘n grenshou. Uganda se bouleenheid het ‘n gedissiplineerde vertoning gelewer, met net vyf ekstras (drie wydlopers, een foutbal, een bylopie).

As veldwerkspan het die Eagles dadelik teruggeveg toe die tuisspan se kaptein Janet Mbabazi (0) ná net twee balle deur Wilka Mwatile geboul is. Laasgenoemde het die druk verder laat oplaai deur ook vir Stephanie Nampiina (6, agter die paaltjies gevang) en Proscovia Alako (2) te verwyder, terwyl Uganda halfpad deur die kolfbeurt op ‘n identiese 36 vir vyf gesteier het.

Die span in geel het Rita Musamali (42 nie uit nie van 55 balle; 4x4) vir die oorwinning te bedank gehad, met die wenlopies wat eers ná 19.3 boulbeurte behaal is. Die Ugandese het net ses viere in hul ganse kolfbeurt geslaan, met Musamali ‘n logiese keuse as speler van die wedstryd.

 

Dag twee, Saterdag

Teen die Verenigde State van Amerika het sake redelik gelykop verloop totdat Namibië uiteindelik met agt lopies gewen het.

Weer eens is die Eagles eerste ingestuur, met Sunè Kotze-Wittmann wat ‘n deurslaggewende 44 van 44 balle (drie viere) bygedra het. Mezerly Gorases (12 van 10 balle; 1x4), Mekelaye Mwatile (22 van 27 balle; 1x4) en Wilka Mwatile (uitgehardloop vir 20 van 18 balle; 1x6) het ook dubbelsyfers behaal in Namibië se totaal van 116 vir agt in 20 boulbeurte.

Die Amerikaners se eerste paaltjie het op 24/1 ná 5.5 boulbeurte geval, met ‘n ligte ineenstorting in die middelorde totdat hulle uiteindelik op 108/9 in 20 boulbeurte binne trefafstand van die teiken te kort geskiet het.

Arrasta Diergaardt is as kolwer met haar eerste bal uitgeboul, maar het as bouler vergoed met ‘n puik vyf paaltjies vir 12 in vier boulbeurte. Sy is hiervoor as speler van die wedstryd bekroon.

Sylvia Shihepo (2/17 in 2) en Victoria Hamunyela (1/19 in 4) het ook belangrike deurbrake gemaak, terwyl Eveleen Kejarukua (0/15 in 4) en Wilka Mwatile (0/18 in 4) ook die VSA se kolftempo laag help hou het.

 

Dag drie, Sondag

Die Namibiërs het gister hul gesag op die laagste gerekende span in die kompetisie afgedwing, deur Rwanda met 39 lopies te oorskadu.

Kolftoestande was opnuut nie van die maklikste nie, met net drie viere en ‘n enkele ses in die ganse Namibiese kolfbeurt (98 vir agt in 20 boulbeurte). Rwanda is egter binne 17.5 boulbeurte vir net 59 lopies uitgeboul.

Ietwat onrusbarend kon net drie Namibiese kolwers weer dubbelsyfers bydra, naamlik Kayleen Green (39 van 49 balle, 2x4) as aanvangskolwer, Wilka Mwatile (17 van 15 balle; 1x6) en Naomi Benjamin (14 van 13 balle, geen grenshoue), met nommer nege Arrasta Diergaardt onoorwonne op 4 van 2 balle (1x4).

Hierteenoor het Rwanda se weerstand verkrummel met Gisele Ishimwe (10 van 23 balle) en die 11 ekstras (10 wydlopers; een bylopie) die enigste dubbelsyfers.

Kayleen Green het haar toekenning as speler van die wedstryd verseker met drie paaltjies vir 10 lopies in 2 boulbeurte. Mekelaye Mwatile (2/11 in 4 bb), Arrasta Diergaardt (2/8 in 2.5 bb) en Wilka Mwatile (2/10 in 3 bb) het die Namibiese oorheersing verder onderstreep.

• Ná ’n rusdag vandag is Namibië se oorblywende bepalings in die groepfase soos volg:

Dinsdag 10 November: teen Uganda (namiddag).

Woensdag 11 November: teen VSA (namiddag).

Donderdag 12 November: teen Rwanda (namiddag).

Saterdag 14 November: Bronsfinaal (08:30) / Bekerfinaal (13:00).

Comments

Namibian Sun 2026-11-09

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment