Volschenk en Surén uitstaande in sterk spanvertoning
Die Suid-Afrikaanse Bekerreeksbyeenkoms by Thaba Trials naby Alberton in Gauteng was ‘n goeie oefenlopie vir die Namibiese bergfietsryers wat onder meer vir die Afrika-kampioenskap later vanjaar voorberei.
Die nasionale afrigter Hans du Toit en verskeie ouers het ‘n groep van 17 jong ryers vergesel wat sterk teen die topryers van die buurland meegeding het.
Qara Volschenk (meisies onder-14) was opnuut ‘n groot uitblinker met goue medaljes beide Saterdag en Sondag – eers in die kortbaanformaat (XCC) en daarna in die veldresies (XCO).
Saterdag het Volschenk die sub-junior meisies se kortbaanresies in 13 minute 09 sekondes voltooi, om sodoende met 41 sekondes voor Leona Theron van Suid-Afrika klaar te maak.
Volschenk het Sondag die veldresies oor drie baanrondtes met meer as twee minute teen Theron gewen, in ‘n wentyd van 46 minute 04 sekondes.
Volschenk was in Maart se vorige byeenkoms by Spice Route Bike Park in die Paarl ook die enigste Namibiese spanlid wat goue medaljes in beide resiese ingepalm het.
Haar landgenoot Ilse-Monique van Zyl was 12de in die kortbaanresies en 14de in die veldresies.
Elite/o.23 mans
Roger Surén van Namibië het Sondag die o.23-mans se veldresies net-net gewen ná ‘n taai stryd teen sy Suid-Afrikaanse mededinger Massimiliano Ambrosi.
Vir die eerste vyf van die agt rondtes het Surén kort op Ambrosi se agterwiel gebly voordat hy later die vinniger baanrondtes afgelê het. Ná meer as 90 minute se harde resies het Surén die jaagtog na die eindstreep met net een sekonde beklink (wentyd 1:32:28). Die twee voorlopers was meer as drie minute voor die res.
Die 18-jarige Surén is bestem om binnekort by sy nuwe beroepspan Alpecin Premier Tech in Europa aan te sluit, in sy eerste jaar op o.23-vlak nadat hy laas jaar ‘n historiese eerste medalje (silwer) vir Namibië by die UCI wêreldkampioenskap in Switserland verower het.
Ná twee UCI-resiese in Windhoek en toe Thaba Trials kon Surén ook in die kortbaanresies sy vertoning teen Suid-Afrika se gedugte Michael Foster, Johan van Zyl en Luke Moir, asook Israel se Tomer Zaltsman meet.
In Saterdag se kortbaanresies (agt rondtes) vir elite mans was Surén algeheel derde ná Moir en Van Zyl, en die eerste o.23-ryer oor die eindstreep. Foster was vierde en Ambrosi vyfde.
Seuns o.18
Marco Thiel het die beste van die Namibiërs gevaar met ‘n vierde plek in die kortbaanresies, waar Christiaan van der Westhuizen agtste klaargemaak het. Theodor Janse van Vuuren (18de) en Mike Baartman (19de) was ook in die boonste helfte uit bykans 50 inskrywings.
In Sondag se veldresies het die wenner Joshua Paul en sy mede-Suid-Afrikaners sake oor ses baanrondtes oorheers teen Van der Westhuizen (12de), Baartman (16de), Thiel (17de) en Janse van Vuuren (19de). Dawie Greeff se ratte het gebreek en hy kon nie klaarmaak nie.
Seuns o.16
Micah Chase het ‘n naweek van goeie mededinging aan die voorpunt teen Camryn Marais van Suid-Afrika gehad.
Die Windhoeker het ‘n silwermedalje in die XCC behaal, twee sekondes agter Marais.
Sondag ná vyf baanrondtes en meer as ‘n uur se veldresies was Chase wéér tweede toe Marais met ‘n verskil van 16 sekondes koning gekraai het. Afrigter Du Toit sê net ‘n klein foutjie tydens die laaste afdraand het verhinder dat Chase saam met Marais eindstreep toe kon jaag.
Francois van Zyl van Namibië was in ‘n stewige 18de plek uit 50 wat weggespring het.
Seuns o.14
In die kompeterende sub-junior seunskategorie was die Namibiërs se posisies soos volg:
Kortbaan (XCC): Sion Liebenberg vierde, John-Pierre Lambert vyfde, Arthur Allain 14de, Patrick von Kunow 15de, Hendrik Baartman 20ste.
Veldresies (XCO): Sion Liebenberg derde, JP Lambert vierde, Patrick von Kunow agtste, Arthur Allain 17de, Hendrik Baartman 18de.
O.23-vroue
Delsia Janse van Vuuren het vanweë ‘n verkoue laas week nie in Saterdag se kortbaanresies weggespring nie.
Sondag was sy in die veldresies se vyf baanrondtes steeds nie honderd persent nie en het vierde ná Lilian Baber, Errin Mackridge en Riley Smith van Suid-Afrika klaargemaak.
Janse van Vuuren is ‘n lid van Namibië se Performance Podium Programme (PPP) en vertrek dié week ook tot in September na Frankryk waar sy onder die vaandel van die wêreldbeheerliggaam UCI se Global 2028-program sal deelneem.
Junior meisies (o.18)
Rosemarie Thiel was vyfde in die meisies o.18 se XCC-resies, en die volgende dag ook vyfde in die veldresies. Die Suid-Afrikaners Madison Bateson en Nika Nortje
Meisies o.12
Linn Lambert het puik presteer deur Sondag haar veldresies van 12 baanrondtes teen 12 Suid-Afrikaanse ryers met ‘n verskil van 44 sekondes te beklink. Haar wentyd was 42 minute 03 sekondes teen Emke Moolman se 42:47.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article