Stadige gif van Vipers bring hul eerste NRU-wentrofee
Enige vorige teleurstellings in die uitklopfase is vergete vir die Windhoekse rugbyklub Vipers wat Saterdag vir die eerste keer die wentrofee van die Namibië Rugbyunie se eersteliga omhoog kon hou.
‘n Terugvegpoging soos min was nodig voordat Vipers ná 78 minute vir die eerste keer teen Oranjemund die voortou kon neem, om uiteindelik naelskraap met 43-42 die knoop deur te haak.
Oranjemund het gedurende die eerste helfte voorspronge van 19-0 en 32-7 opgebou en was rustyd met 35-19 voor.
Vir die span van die verre suide sou dié laat nederlaag dus ‘n bitter pil wees om te sluk, nadat hulle in 2025 se eindstryd ook teen Etosha Leeus van Tsumeb die knie moes buig.
Vipers se beste vorige eindposisie was toe hulle in die doodsnikke van 2024 se finaal ‘n strafskop van die regoppaal sien wegspat het en gevolglik met 14-17 teen Ocean Swallows van Lüderitz verloor het.
Oranjemund het hul potensiaal uitgestal en was sterk op koers na die titel met hul drieë deur agtsteman Keanan Beukes, flank en kaptein Winnespeare Temmers (2), slot Jaden Beukes en ‘n strafdrie, asook drie strafdoele en twee doelskoppe deur skrumskakel Ronald Solomons.
Vipers se terugvegpoging het met ‘n drie deur agtsteman Owen Swartz ná 19 minute afgeskop, voordat linkervleuel Duncan Subeb ondanks ‘n duikslag oor die hoekvlag sy drie ná 36 minute bygevoeg het. Beide is deur losskakel Keanan Jansen verdoel, terwyl Oranjemund ook nie die senter Ryan Naseb se onverdoelde drie net voor rustyd kon keer nie.
‘n Drie deur regtervleuel Joseph Joseph ná 53 minute het Vipers se agterstand na 26-35 laat krimp, toe Subeb met die doelskop geslaag het.
‘n Oomblik van swak dissipline en terugpraat met die skeidsregter het Oranjemund kwesbaar gelaat vir die tikskoppie van waar Subeb sy tweede drie gedruk en ook self van die kantlyn af verdoel het (33-35), met sowat 18 minute oor.
Oranjemund het ná 66 minute ‘n strafdrie afgedwing toe ‘n lynstaandryf grond toe getrek is, waarna die Vipers-flank Rivaldo Louw met sy tweede geelkaart van die wedstryd afgestuur is.
Ná 73 minute was beide spanne ‘n man kort toe Oranjemund se losskakel Heinrich Solomons ook ‘n geel kaart gekry het. Die grondslag was gelê vir sy direkte opponent Keanan Jansen om vir agtsteman Owen Swartz vir sy tweede drie oor te stuur, waarna Jansen se doelskop die telling 40-42 gemaak het.
‘n Laaste drukperiode en beskerming van hul balbesit deur fases het tot die strafskop binne trefafstand ná 78 minute gelei, met Duncan Subeb se linkervoet wat die beslissende wenpunte aangeteken het.
Bevredigende prestasie
Frans-Anthonie Gerber, die eienaar van die klub, sê: “Vipers se hele seisoen is opgesom in liefde en kameraadskap. Ons het elke game saam met Rias Oberholzer, ons pastoor, begin en opgedra en gereed gemaak om dit te vat soos dit kom.
“Ons het baie sterk begin, maar in die middel van die jaar bietjie ingesink. Ons moes vir een wedstryd onttrek, want dit was tyd om my manne te rus, saam te trek en van voor af te begin. Afrigter Charles Oosthuizen het in die middel van die seisoen ons hele wedstrydplan verander, en almal het ingekoop.
“Ons het die finaal gespeel sonder vyf van ons spelers wat weens beserings of ander verpligtinge nie beskikbaar was nie. Maar elke volgende speler het net ingestap en voortgegaan. Almal het geweet wat gedoen moet word.
“Ek het persoonlik na my span se voeding gekyk, voor en tydens wedstryde. Ek het hulle oortuig dat hulle my net moet glo en vertrou, ek sal sorg daar is energie, hulle moet net speel.
“Ons het beserings hanteer, veral teen die einde met my vrou Francie as biokinetikus. Charles en Dalre Vermaak moes net ‘coach’. Ons het vir Bradley Jarman ingetrek as speler-afrigter, met ‘n motiverende rol.”
“Vir die eerste jaar in Vipers se geskiedenis het ons ook spelers in die nasionale o.20- en nasionale sewes-oefengroepe gehad.”
Die klubs wat onderskeidelik boaan die NRU eersteliga se Suidelike en Noord-Sentraal groep klaargemaak het – Sparta van Walvisbaai en die Keetmanshoop Rams – is beide in uitklopwedstryde voor die finaal uitgeskakel.
Die aanduidings is dat Vipers volgende jaar steeds in die NRU eersteliga sal bly. Die NRU-regulasie is dat ‘n klub wat in die premierliga wil speel, ook gedurende die jaar ‘n tweedespan in die reserweliga moet volhou.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article