Regstelling: O.20-toer na Chili is bevestig
Die Namibiese o.20-rugbyspan sal deelneem aan die Wêreldrugby o.20-Uitdaagbeker van 2026, wat van 2 tot 17 Oktober in Chili aangebied word.
Ná Kenia se oorwinning van 33-14 oor Namibië in Kampala afgelope Dinsdag, het Sport Wrap foutiewelik berig dat dié uitslag Kenia se plek vir deelname in Chili verseker het.
Altesaam agt spanne sal deelneem, naamlik die gasheer Chili, Hongkong, Brasilië, Kanada, België, Portugal, Roemenië en Namibië.
Die Junior Welwitschias het hul kaartjie na Chili in 2026 verseker deur die Rugby Afrika o.20-Barthés-trofee van 2025 in Harare, Zimbabwe, te wen.
Die agtsteman Ben Burger se Namibië-span het die kontinentale toernooi in April 2025 oorheers met oorwinnings teen Zimbabwe (41-22), Kenia (32-22) en Tunisië in die finaal (81-7) om sodoende die Afrika-titel ná ‘n droogte sedert 2018 te herower.
Nadat hulle die titel in 2025 gewen het, het Namibië die daaropvolgende Barthés-trofee-toernooi van Augustus 2026 in Uganda as verdedigende kampioen betree. Hulle het weer die eindstryd gehaal, maar is Dinsdag deur Kenia onttroon (14-33).
Aangesien die 2025-toernooi egter die aangewese kwalifiserende siklus vir die Wêreldrugby o.20-Uitdaagbeker van Oktober 2026 in Chili was, bly Namibië se plek in Santiago verseker.
Intussen sal Kenia se Barthés-beker-oorwinning van vandeesweek hul plek in die Wêreldrugby o.20-Uitdaagbeker van 2027 bevestig; die gasheerland vir daardie toernooi moet nog aangekondig word.
Die 2026 Uitdaagbeker sal Namibië se eerste verskyning ná ‘n afwesigheid sedert 2018 wees, toe die toernooi tevore bekend as die Wêreldrugby o.20 Trofee in Roemenië aangebied was. Namibië het sy beste eindposisie in dié wêreldtoernooi (vierde) drie keer behaal – onder die afrigterskap van Roger Thompson (in Zimbabwe 2016 en Uruguay 2017) en Henry Kemp (Roemenië 2018).



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article