Premierliga Twee behoort aan Wanderers
Hardnekkige weerstand deur Tiaan van der Westhuizen was uiteindelik tevergeefs vir Pro-Ed Old Boys in laas Sondag se eindstryd van Krieket Namibië se 40-boulbeurt Premierliga Twee.
Die gasheerklub APS Wanderers se tweede span het met 134 vir vier (24.1 boulbeurte geantwoord) op die kusspan van Swakopmund se 133 almal uit in 22.1 boulbeurte, en het dus met ses paaltjies gewen.
Van der Westhuizen het as Pro-Ed Old Boys se kolwer nommer vyf reeds in die tweede boulbeurt ingestap met sy span op 1 vir drie, nadat beide aanvangskolwers Tristan Beyer (0) en Liam Kruger (0) asook die kaptein Marco Malan (0) se vertrek behoorlik die kat in die hoenderhok losgelaat het.
Van der Westhuizen het gou ook vir Herman van Zyl (3), Wayne Jeffery (0) en Jurie Engelbrecht (0) as potensiële kolfmaats verloor, wat die besoekers op ‘n verwoestende totaal van 10/6 gelaat het.
Met ‘n bietjie bystand van Danie Francois van Zyl junior (13) en Reynard van Zyl (14) het Van der Westhuizen ‘n puik vyftigtal van net 35 balle aangeteken en is uiteindelik vir 92 lopies van 61 balle uitgevang, nadat hy tien sesse en vier viere gemoker het.
In Pro-Ed se klein totaal van 133 het Van der Westhuizen ‘n uitstekende 69.17 persent van hul lopies aangeteken. Hy het in die besonder onder Danie van Schoor (0/42 in 3 bb) se boulwerk ingeklim, totdat laasgenoemde met ‘n vangskoot van Tiaan van der Merwe (1/2 in 1 boulbeurt) as bouler van hom ontslae geraak het.
Die Wanderers-boulers Steven Delport (3/6 in 4 boulbeurte; 21 leë balle) en PD Blignaut (3/24 in in 6 bb; 27 leë balle) het van die begin af die aftakelingswerk gedoen om te keer dat die kusspan ‘n behoorlike totaal aanteken.
Wanderers het vir Tiaan Louw (9) eerste verloor, voordat kaptein Danie van Schoor (20 van 20 balle; 3x4) en Tiaan van der Merwe (20 van 25 balle; 3x4) die kolfbeurt aan die gang gesit het.
Die tuisspan was op 65/4 effens benoud toe Wessel Myburgh (6) ook nie sy ondervinding kon afdwing nie, maar Riaan Minnie (37 nie uit nie van 30 balle; 7x4) en Aiden Feely (28 nie uit nie van 37 balle; 4x4) het seker gemaak Wanderers behaal die wentotaal sonder enige verdere terugslag.
Nog eindstryde
• By United-veld in Olympia; Krieket Namibië 30-boulbeurt eersteliga vir Sentraal: CCD Tigers se tweedespan (247/3) klop Unam Zebra se tweedes (192 almal uit) met 55 lopies. Speler van die wedstryd: Josue Celiers (CCD) 199 nie uit nie van 78 balle; 9x4 2x6) en 3/40 in 6 bb.
• By Walvisbaai-Ovaal; Krieket Namibië 30-boulbeurt eersteliga vir kusstreek: Kleilat-krieketklub (121/9) klop JCCA (106 almal uit) met 15 lopies. Speler van die wedstryd: Marchello Britz (Kleilat) 4/23 in 6 bb, en 28 van 35 balle (3x4 2x6).



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article