O.20’s moet sokkies optrek in finaal teen Kenia
Dramatiese verbetering word vandag van die Namibiese onder 20-span vereis indien hy die wentrofee by die Rugby Afrika O.20 Barthés-bekertoernooi wil behou wat laas jaar se kombinasie onder kapteinskap van Ben Burger verower het.
In Uganda se hoofstad Kampala het die Namibiërs afgelope Vrydag in hul openingswedstryd teen Tunisië op onoortuigende wyse met 11-6 deurgeskraap.
Net daarna het Kenia sy plek in die eindstryd ingeneem deur Zimbabwe met 35-23 te oorskadu. Die Keniane was rustyd reeds met 23-6 in beheer van sake en het uiteindelik vyf drieë gedruk. Die Oos-Afrikane het met groot selfvertroue en doeltreffendheid die spoed in hul agterlyn gebruik om Zimbabwe met tye aan flarde te hardloop.
Zimbabwe het ook die prys betaal vir ongedwonge foute en versuim om hul geleenthede in punte te omskep.
Vandag se finaal (14:00 Namibiese tyd) sal bepaal wie van Namibië of Kenia deurdring na die Wêreldrugby Junior Trofee-toernooi later vanjaar in Chili.
Stringe foute
Ondanks bewese talent in die groep het Namibië min gewys om oor opgewonde te raak en Tunisië het inderdaad met 0-6 voorgeloop toe die rustydfluitjie blaas.
Basiese hanteerfoute het die Namibiërs soos amateurs laat lyk, en het enige noemenswaardige opbouwerk sommer vroeg in die kiem gesmoor. ‘n Ietwat mistige oggend met hoë lugvogtigheid het die oorhand teen die spelers se uitvoering van hul vaardighede gekry.
Namibië se afrigters, Johan Zaayman en Jood Opperman, het rustyd bykans die volledige reserwebank opgestuur, wat bygedra het tot ‘n ietwat beter vertoning om die kastaiings uit die vuur te krap.
Windhoek Hoërskool se losskakel Mc-Rein van Wyk het twee minute ná die hervatting met ‘n strafdoel die nulletjie op die telbord verwyder.
Die enigste drie van die wedstryd is eers ná 58 minute gedruk. In Tunisië se gebied is ‘n Namibiese lynstaaningooi na die opponente se kant geklap, maar kon nie onder beheer gebring word nie en die plaasvervangerflank Nzola-Menza Nkunku (Western Suburbs) was in posisie om naby die pale te gaan druk.
Vreemd genoeg het Van Wyk met die doelskop misluk, maar ná 74 minute het hy hiervoor vergoed met ‘n netjiese skepdoel wat Tunisië se moed gebreek het.
Die reaksie
Onmiddellik ná die wedstryd het afrigter Zaayman nie doekies omgedraai nie en het die vertoning beskryf as die swakste wat hy in onlangse jare van ‘n Namibiese o.20-span beleef het.
“Ek is baie teleurgesteld; dis nie die manier hoe ons wil speel nie. Die eerste helfte was bitter swak, maar gelukkig het ons wel gewen. Ons sal sake moet regruk voor die finaal, want daai was beslis nie goed genoeg nie.”
Hy het die hanteerfoute, verlore besit uit lynstaan-ingooie en foute in die organisering van die verdedigingslyne as probleemgebiede teen Tunisië uitgesonder. “Alles het verkeerd geloop; dit was bitter swak.”
Zaayman het later gesê die toergroep het indringende gesprekke gehad en het ook op die oefenveld goeie sessies ingesit.
“Ons weet die jongmanne het veel meer potensiaal as wat ons Vrydag gesien het. Kenia het teen Zimbabwe gewys dat hulle gevaarlike spoed in die agterlyn het, en hulle is ook doeltreffend om vir balle op die grond mee te ding.
Die program vandag
11:00 Namibiese tyd (12:00 in Kampala): bronsfinaal, Tunisië teen Zimbabwe.
14:00 Namibiese tyd (15:00 in Kampala): bekerfinaal, Namibië teen Kenia.
Wedstryde word regstreek op Rugbypass.tv, asook die Facebook-blad van Rugby Afrika vertoon.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article