• Home
  • Sport
  • NRU Eersteliga sal nuwe kampioen bekroon

NRU Eersteliga sal nuwe kampioen bekroon

Rugby
Oranjemund kry weer ’n geleentheid nadat hulle in laas jaar se eindstryd geklop is.
Andrew Poolman

Die rugbyklubs Oranjemund en Vipers sal mekaar in die eindstryd van die Namibië Rugbyunie (NRU) se eersteliga takel nadat hulle Saterdag twee taai halfeindstryde by die Hage Geingob-stadion gewen het.

‘n Nuwe kampioen sal bekroon word, met die Etosha Leeus van Tsumeb wat vanjaar nie ingeskryf het nie omdat hul spelers klaarblyklik verkies om FNB Grootfontein se aanslag in die NRU premierliga te versterk. Etosha het laas jaar se eindstryd teen Oranjemund met 37-26 in Windhoek gewen.

Vipers van Windhoek moes Saterdag sterk terugveg om Keetmanshoop Rams met 28-24 uit te skakel, terwyl Oranjemund ’n laat aanslag moes afweer voordat hulle teen die Walvisbaaise span Oceans met 26-19 oorleef het.

In die eerste halfeindstryd het Vipers sake geopen met ’n drie deur agsteman Gaston Swartz, maar die Rams het teruggekap met drieë deur senter Heino Keister, asook ’n strafdrie, om met 12-10 voor te loop. Die Vipers-vleuel Duncan Subeb is vir tien minute koelkas toe gestuur vir ‘n hoogvat naby die hoekvlag wat tot die strafdrie aanleiding gegee het.

Vipers het die voortou herwin met ’n strafskop deur losskakel Keanan Jansen. Teen rustyd het die Rams egter met 19-13 voorgeloop danksy ’n drie deur flank David Sakeus, verdoel deur losskakel Marc Sauls.

In die tweede helfte het Vipers egter met mening ingeklim, met hul kaptein en flank, Nicolaas (Klasie) Mostert, wat twee drieë ná mekaar gedruk het. Jansen het een verdoel, terwyl Duncan Subeb ’n strafskop bygevoeg het om die Windhoekers met 28-19 te laat voorloop.

’n Laat troosdrie deur die plaasvervanger Vincenzo Gawaseb het sake vir die Rams beter laat lyk voor die eindfluitjie hulle ingehaal het.

Die Vipers-kaptein Mostert het gesê hulle moes diep delf vir die oorwinning.

“Dit was ’n taai wedstryd – die span moes in die tweede helfte terugveg en ek dink ons het goed gevaar. Ons dissipline het ons met tye in die steek gelaat en ons het rustyd daaroor gepraat.

“Om die eindstryd te haal, is ’n groot prestasie vir ons, veral omdat Vipers vanjaar ’n vernuwing ondergaan het met ’n splinternuwe bestuur. Die doelwit was om die eindstryd te haal en ons is nou daar, maar ons moet beslis na ’n hoër rat oorskakel ná vandag se vertoning,” het hy bygevoeg.

 

Driekuns vir nr. 8 Beukes

In die tweede halfeindstryd was Oranjemund teen rustyd oënskynlik op pad na ’n gemaklike oorwinning, danksy ’n uitstaande vertoning deur hul agsteman, Keanan Beukes.

Met krag, spoed en goeie ondersteunende spel het Beukes hul eerste drie drieë gedruk, en met skrumskakel Ronald Solomons se drie doelskoppe was die suidespan rustyd met 21-0 voor.

Oceans het hul telling geopen met ’n drie onder die pale deur senter Quentos Damens, maar Oranjemund se losskakel Theodore Steenkamp het deurgebreek vir nog ‘n drie (26-5).

Oceans het teruggeveg vir drieë deur die plaasvervangers Kwenu Daniels en Denzel Sitambi om die agterstand tot 26-19 te verklein, maar Oranjemund het vasgebyt vir die oorwinning.

Oranjemund se kaptein en gewese Namibiese toetsvleuel, Gino Wilson, het gesê dit was ’n taai stryd.

“Dit was werklik taai, veral teen die einde; mens kon sien hulle probeer terugkom, maar gelukkig het ons die meeste van ons punte in die eerste helfte aangeteken. Welgedaan aan Oceans; hulle het werklik tot die laaste minuut veggees en karakter getoon. Ek is baie trots op my manne dat ons hulle tot aan die einde kon uithou.

“Ongeag teen wie ons in die eindstryd te staan kom, ons moet net aan onsself werk, in onsself glo en kyk waar ons kan verbeter vir die eindstryd, wat weer ’n reuse-stryd gaan wees.”

Comments

Namibian Sun 2026-09-15

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment