• Home
  • Sport
  • Namibië en Zim gryp WB-kwalifisering aan

Namibië en Zim gryp WB-kwalifisering aan

Krieket
Andrew Poolman
Krieket Namibië se nasionale manspan het in sy missie geslaag deur die land se kwalifisering vir volgende jaar se ICC T20 Wêreldbekertoernooi te verseker, wat in Indië en Sri Lanka aangebied sal word.

Afrigter Craig Williams en sy manne kan nou op en van die veld hul planne begin smee om in hul vierde opeenvolgende verskyning by die wêreldtoernooi (Februarie-Maart 2026) opnuut so kompeterend as moontlik teen die sport se bulspanne te wees.

Die bevestiging van hul WB-kwalifisering maak die liplekker vooruitsig van die Suid-Afrikaanse Proteas se stryd teen die FNB Eagles op 11 Oktober in Windhoek selfs nog meer aanloklik.

By die kontinentale kwalifiserende toernooi in Zimbabwe se hoofstad Harare het die FNB Eagles gister 174 vir ses teen Tanzanië opgestel – hoewel hulle vier paaltjies vir 41 lopies binne die eerste kragspelperiode verloor het.

Hoewel Tanzanië hulle verbete probeer teësit het, was die omvang van Namibië se ondervinding te veel om te hanteer en hulle is tot 111/8 beperk, wat die oorwinning met 63 lopies vir die Eagles beklink het.

“Dis ‘n betekenisvolle prestasie om opeenvolgens vir die wêreldtoernooi te kwalifiseer,” het kaptein Gerhard Erasmus in die TV-onderhoud agterna gesê.

“Dis so ‘n groot geleentheid vir (ICC) assosiaatlande om hul talent ten toon te stel en te wys hulle bly relevant.”

Nadat Erasmus twee dae tevore nie teen Malawi kolfkans gekry het en teen Nigerië vir net 1 uitgehaal is, het hy gister saam met die ewe ervare JJ Smit die kastaiings uit die vuur gekrap met ‘n vyftigtal vir beide van hulle.

Erasmus is netjies uitgevang met ‘n duikslag vorentoe deur Mukesh Suthar, nadat hy 55 van 41 balle behaal het (ses viere).

Op 41/4 ná net 4.4 boulbeurte was lopiemasjien Jan Frylinck (0) reeds eerste terug in die kleedkamer, nadat hy van die onderrand van sy kolf die bal op sy paaltjies gespeel het. Malan Kruger (28 van 15 balle) het met vier grenshoue en ‘n ses ingeklim, terwyl Louren Steenkamp (1) en Nicol Loftie-Eaton (10 van 7 balle; een ses) in dieselfde boulbeurt uitgehaal is.

Erasmus het egter met JJ Smit (61 nie uit nie van 43 balle; een vier, vier sesse) ‘n deurslaggewende 88-vennootskap gebou en hoewel mokerman Ruben Trumpelmann (0) onmiddellik ná Erasmus uitgehaal is, het Zane Green (10 nie uit nie van nege balle) ook twee laat viere geslaan.

Erasmus het gesê: “Dit is wat die senior spanlede moet doen; om ‘n taak in sekere moeilike situasies te verrig. Vanaf daardie potensiële keerpunt het ons (Smit en Erasmus) bietjie slim gewerk met ons ervaring en hard tussen die paaltjies gehardloop.”

Die Namibiese kaptein sê sy span bly gemotiveerd om Saterdag in die finaal teen Zimbabwe sake reg te stel, nadat die Chevrons vooraf die opwarmreeks met twee internasionale T20-oorwinnings teen een beklink het.

Smit, wat 23 lopies van die 20ste boulbeurt gemoker het (6, 2, 6, 6, 2, bylopie), het ook as linkerarm naatbouler vir Tanzanië geteister met drie paaltjies (3/16 in 4 bb). Ben Shikongo het hom ook laat geld met 3/21 in 4 bb.

• In gister se tweede semifinaal het Zimbabwe met die tuisskare agter hom vir Kenia met sewe paaltjies oorskadu – om te verseker dat die Chevrons ook die Wêreldbeker-reis na Indië 2026 sal aanpak.

Aanvangskolwer Brian Bennett was opnuut hul voorste lopiemaker met ‘n haastige 51 van 25 balle (agt viere, twee sesse) wat hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg het. Zimbabwe (123/3 in 15 bb) het Kenia vroeër tot 122/6 beperk.

Met hul hoër stand op die wêreldranglys het Sikandar Raza se Zimbabwe-span vir die skande van 2024 se T20 WB-uitduntoernooi in Windhoek vergoed, toe hulle met nederlae teen beide Uganda en Namibië uitgeskakel is.

Comments

Namibian Sun 2025-10-04

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment