• Home
  • Sport
  • Kolwer agt slaan wenlopies vir Kenia

Kolwer agt slaan wenlopies vir Kenia

Krieket
Andrew Poolman
Die nasionale A-span van Krieket Namibië het ná twee oorwinnings hul eerste nederlaag in die vierhoekige Pearl of Africa T20-reeks in Uganda se hoofstad Kampala gely.

Die Namibiërs – vergesel deur ‘n sterk afrigterspan van Craig Williams, Oscar Nauhaus en Justin Kemp – ding sedert verlede week mee in die vriendskaplike toernooi teen Uganda se A-span, Nigerië en Kenia, met twee kragmetings teen elke opponent.

Reënerige weer het Dinsdag tyd verlore laat gaan wat ‘n rol gespeel het in Kenia se oorwinning met drie paaltjies (Duckworth-Lewis-Stern metode). Die Oos-Afrikane het op spannende wyse die knoop deurgehaak om hul aangepaste teiken met die tweedelaaste bal te behaal.

Die Namibiese kolfbeurt Dinsdagoggend het met rukke en stote verloop totdat hulle met ‘n beskeie totaal van 113/8 in 20 boulbeurte geëindig het.

Die spankaptein JC Balt (5 van 9 balle) het een vier geslaan, maar is in die eerste boulbeurt uitgevang en met die volgende bal was Namibië op 6 vir twee toe Handre Klazinga vir ‘n nul uitgevang is.

Zacheo Janse van Vuuren was aanvallend as aanvangskolwer (een vier en een ses in sy 13 van 8 balle) totdat hy agter die paaltjies uitgevang is.

Vanaf 20/3 het Dylan Leicher (8 van 18 balle; een vier), paaltjiewagter Liam Basson (14 van 25 balle, geen grenshoue) en Jan-Izak de Villiers (33 van 27 balle, 3x4) die skip op koers probeer hou.

Simon Shikongo (17 van 13 balle) en PD Blignaut (11 nie uit nie van 11 balle) het elkeen een vier geslaan.

Die Namibiese boulaanval het Kenia se kolftempo aanvanklik uitstekend onder beheer gehou – net twee viere is geslaan in die ganse periode totdat Kenia op 48/7 ná 10.2 boulbeurte gesteier het.

Die aankoms van Kenia se nommer agt Lucas Ndandason was egter ‘n keerpunt en sy kolfbeurt het hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg. Hy het vyf viere geslaan (31 nie uit nie van 17 balle) vir ‘n skerp styging in die kolftempo.

In hul jaagtog na die aangepaste teiken van 83 lopies in 13 boulbeurte het Kenia twaalf lopies van Jack Brassell se laaste boulbeurt nodig gehad, maar Ndandason het van opeenvolgende balle 2, 4 en 4 lopies aangeteken om die oorwinning te verseker met ‘n enkele bal oor.

Die deurbrake wat Max Heingo (2/9 in 3 bb), Zacheo van Vuuren (2/9 in 2 bb) vroeër gemaak het, met nog een elk deur Jan-Izak de Villiers, Dylan Leicher en Jack Brassell, was gevolglik nie genoeg om die skaal in Namibië se guns te swaai nie.

• Teen druktyd was die uitslag van gistermiddag se wedstryd tussen Namibië-A en Uganda-A nog nie bekend nie.



OORBLYWENDE WEDSTRYDE

Vrydag 25 Julie, Nigerië teen Namibië-A (13:00 Namibiese tyd).

Saterdag 26 Julie, Kenia tn Namibië-A (13:00 Namibiese tyd).

Comments

Namibian Sun 2025-07-25

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment