• Home
  • Sport
  • Gobabis Bulls en Green Mambas beloof titaniese stryd

Gobabis Bulls en Green Mambas beloof titaniese stryd

Krieket
Nedbank Desert Ice krieket kry momentum.
Tielman van Lill

Gobabis Bulls en die Green Mambas het ’n appeltjie te skil nadat die twee klubs weens ’n nat veld nie hul eindstryd in die vorige seisoen kon speel nie. Toevallig beklee albei spanne die boonste plekke op die punteleer, en ’n titaniese stryd word verwag om te bepaal wie werklik die baas is.

Nedbank Namibië is reeds geruime tyd die Desert Ice se vennoot en speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van blitskrieket en spelers regoor Namibië. Die titelborg het verlede jaar N$150 000 tot die kompetisie bygedra. ’n Stewige tjek van N$50 000 is aan die kampioene oorhandig, terwyl die naaswenners N$10 000 ontvang het. Vanjaar is dit geensins anders nie, met die borg wat die reeks met N$200 000 ondersteun.

Die eerste bal van die uitdaging is op 8 Mei geboul en tot dusver is 15 wedstryde afgehandel. Die agt spanne wat om die titel meeding, is die Crazy Monkey CCD Tigers, Autohaus Windhoek Central Sunrisers, Etungu Kudus, BDO Gobabis Bulls, Moola Betting Green Mambas, YouTrack Fleet Management Run Whisperers, Spur Steak Ranches Warriors en Supatronix Unam Zebras.

As daar na die statistieke van die toernooi gekyk word, kan toeskouers die naweek weer kookwaterkrieket verwag. Blink individuele vertonings is reeds deur kolwers en boulers gelewer. Shaun Fouché het vir die Central Sunrisers 104 lopies (nie uit nie) aangeteken, terwyl Joss Zondagh van die Green Mambas vier paaltjies vir ’n skamele 13 lopies laat kantel het. Die hoogste span-telling van 210 vir 6 is deur die Green Mambas opgestapel.

Die kolwers het altesaam 3 996 lopies gemoker, waarvan 2 308 uit grenshoue gekom het. Die boulers het 196 paaltjies geneem met die 3 220 balle wat hulle afgestuur het.

Grenshoue

Viere: 322 (1 288 lopies), gemiddeld 15 per wedstryd.

Sesse: 170 (1 020 lopies), gemiddeld meer as 11 per wedstryd.

Veertien vyftigtalle en een honderdtal is aangeteken. Vyf-en-dertig kolwers is vir ’n nulletjie uitgeknikker.

Suksesvolste kolwers

  1. Shaun Fouché – 217 lopies
  2. Nicol Loftie-Eaton – 187 (Green Mambas)
  3. Tonde Musakanda – 154 (Unam Zebras)
  4. Henry Hayes – 153 (Green Mambas)
  5. Jaco le Roux – 143 (Spur Warriors)

Wie het die meeste paaltjies geneem?

  1. Jurie Engelbrecht – 8 paaltjies (Spur Warriors)
  2. Ruan Conradie – 7 (Central Sunrisers)
  3. Joss Zondagh – 6 (Green Mambas)
  4. Asad Abbas – 6 (Run Whisperers)
  5. Herman van Zyl – 6 (Spur Warriors)

Ranglyspunte van die topvyf spelers

  1. Shaun Fouché – 434 punte
  2. Herman van Zyl – 385
  3. Nicol Loftie-Eaton – 384
  4. Jaco le Roux – 348
  5. Simon Shikongo – 321 (CCD Tigers)

Puntetabel

  1. Green Mambas – 6 punte (3 uit 3)
  2. Gobabis Bulls – 6 (3 uit 3)
  3. Central Sunrisers – 4 (orlutik 2 uit 4)
  4. CCD Tigers – 4 (2 uit 3)
  5. Spur Warriors – 4 (2 uit 6)
  6. Run Whisperers – 2 (1 uit 2)
  7. Etungu Kudus – 2 (1 uit 4)
  8. Unam Zebras – 2 (1 uit 5)

Die naweek se aksie

Al vier wedstryde word die naweek by Wanderers gespeel en begin om 09:00 en 14:00.

Saterdag 6 Junie

  1. Green Mambas teen Gobabis Bulls
  2. Unam Zebras teen Run Whisperers

Sondag 7 Junie

  1. Etungu Kudus teen Gobabis Bulls
  2. CCD Tigers teen Green Mambas

 

Comments

Namibian Sun 2026-06-05

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment