Franchise-reeks dien doel in WB-aanloop
Alexander Volschenk het Saterdag die eerste honderdtal in Krieket Namibië se Super 50 franchise-reeks geslaan om die Paratus Jets se tweede oorwinning in twee wedstryde te help verseker.
Die Super 50 is ‘n tydige inisiatief om die Namibiese momentum in die eendagformaat te behou, ná die geskiedkundige reeksoorwinning teen Ierland.
Die nasionale span, die FNB Eagles, het intussen amptelik vyfde in die afgelope ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks (2024-2026) klaargemaak.
Oman (vierde) en Namibië het beide op 33 ligapunte ná 36 wedstryde klaargemaak, met die uiters geringe verskil in netto kolftempo (-0.224 teen -0.278) wat in werklikheid ‘n reuseverskil in invloed gehad het.
Ondanks Oman se onlangse verlies aan momentum het hulle net-net deurgeskraap om direk na die 2027 Wêreldbeker se wêreldwye kwalifiserende toernooi (tien spanne in Windhoek; in Februarie-Maart 2027) te vorder.
Hierteenoor sal Gerhard Erasmus se Namibië-span eers ‘n bykomende hekkie moet oorleef – die uitspeeltoernooi in Nepal vanaf 4 tot 21 Desember vanjaar. Net die topvier uit agt spanne (Namibië, Kanada, Nepal, Verenigde Arabiese Emirate, Koeweit, Jersey, Italië, Uganda) sal tot die laaste kwalifiserende toernooi in Windhoek vorder.
Namibië, Zimbabwe en Suid-Afrika is mede-aanbieders van die 2027 ICC Wêreldbeker (Oktober-November).
Franchise-opwinding
In die openingswedstryd Vrydag by die FNB NCG het die Paratus Jets (279/9 in 50 boulbeurte) teen die Eavion Eagles (254/7 in 50 bb) met 25 lopies gewen.
Die speler van die wedstryd was JC Balt (Paratus Jets nommer 7-kolwer) met 77 van 80 balle (4x4 4x6).
Balt is eers in die laaste boulbeurt uitgehaal, wat ’n vennootskap van 165 lopies sy kaptein Zane Green (93 nie uit nie van 96 balle; 11x4, 1x6) beëindig het.
Die Eavion Eagles se suksesvolste boulers was Shaun Fouché (3/45 in 6 boulbeurte) en Ben Shikongo (2/74 in 10), terwyl kaptein JJ Smit (0/40) en Waldo Smith (0/36) elk 10 bestendige boulbeurte afgestuur het.
Die Eavion Eagles se lopiejaagtog was op koers tydens die vennootskap tussen Shaun Fouché (85 van 101 balle; 9x4, 2x6) en JJ Smit (59 van 79 balle; 5x4, 2x6). Dit het hulle ná ’n stadige begin (3/36 na 11 boulbeurte) op 189/4 na 39.1 bb geplaas.
Die verlies van hul laaste sewe paaltjies vir slegs 65 lopies het die Eavion Eagles egter duur te staan gekom.
JC Balt het sy 77 lopies opgevolg deur vier paaltjies te neem (4/41 in 9 boulbeurte), terwyl Douglas Truter (2/39 in 10 boulbeurte), Tangi Nuuyoma (1/45 in 10) en Handre Klazinga (0/31 in 7 boulbeurte) ook gesorg het dat gemiddeld vyf lopies of minder per boulbeurt afgestaan is.
• Alexander Volschenk was Saterdag die speler van die wedstryd (123 van 125 balle) in die Paratus Jets (258/8) se reuse-oorwinning met 113 lopies teen die Pupkewitz Motors Wildcats.
Jack Brassell (4/44) en Max Heingo (1/45) asook Bernard Scholtz (2/28) het hul kant gebring in 10 boulbeurte elk vir die Wildcats, maar Volschenk is eers in die laaste boulbeurt deur Brassell laat uitvang.
Vir die Wildcats was kaptein Malan Kruger (45 van 42 balle) die enigste ligpunt teen JC Balt (3/14 in 5.5 bb), Dan Brassell (3/34 in 7) en hul boulmaats.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article