• Home
  • Sport
  • Etosha neem tweede helfte oor en vat die beker

Etosha neem tweede helfte oor en vat die beker

Klubrugby
Andrew Poolman
Die wentrofee van die Namibië Rugbyunie se eersteliga staan opnuut op Tsumeb in die vertoonkas van die Etosha Leeus, nadat hulle Saterdag in Windhoek die eindstryd teen Oranjemund met 37-26 beklink het.

Toe die span uit die verre suide ná 36 minute met 19-3 voorgeloop het, het dit nog kompleet gelyk of Oranjemund vriend en vyand sou verras en vir die eerste keer in sy bestaan die NRU eersteliga se kampioen kon word. Oranjemund se beste vorige vertoning was toe hy die 2018-eindstryd teen die sentrale kusspan Vikings verloor het.

Die Etosha Leeus het egter uit hul aanvanklike slapie ontwaak om uiteindelik met ‘n gerieflike punteverskil te wen, terwyl die suidespan nie betyds van sy insinking kon herstel nie.

Vir Oranjemund het hul kaptein Gino Wilson, gewese Namibiese vleuel en Western Suburbs-kaptein, drie doelskoppe en ‘n drie bygedra. Sy spanmaats Keanan Beukes (agtsteman), Dylan Farmer (slot) en reserwestut Rouxzano Bezuidenhout het ook drieë gedruk.

Die Etosha Leeus was eerste op die telbord met ‘n strafdoel deur Franklin Busch (senter, tevore van Reho Falcon), maar het eers weer in die 40ste minuut punte aangeteken toe agtsteman Nguvitja Tjaronda naby die pale gedruk het vir Busch om oor te skop, wat Oranjemund se voorsprong rustyd tot 19-10 laat krimp het.

‘n Busch-strafdoel ná 45 minute is nege minute later opgevolg toe net kort van die doellyn platgetrek is, maar haker Johanco Grobler was daar om op te pik en dir drie te druk, wat Busch verdoel vir Tsumeb om met 20-19 voor te loop.

Loskopstut Filippus Tshuuya (tevore Wanderers) en weer Johanco Grobler het drieë bygevoeg, terwyl Busch beide verdoel en ook nog ‘n strafdoel bygevoeg het vir sy totaal van 15 punte vir die dag.

Die Leeus se wenspan in die eindstryd (15-1) George Turner, George Mendos, Divan Steyn, Franklin Busch (onderkaptein), Nico van Staden, Nivine Nel, Fernando Nitschke; Nguvitja Tjaronda, Danwill Morkel, Morné Button (kaptein), Jandre van Vuuren, Mireti Muhuure, Fikameni Shapumba, Johanco Grobler, Filippus Tshuuya. Reserwes: Johannes Coetzer, Remember Isai, Vinfred van Wyk, Justin Range, Charlton Somseb, Geovanne Rittmann, Obed Kuhanga, Corbin Kotzee.

Comments

Namibian Sun 2025-06-23

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment