Eagles se mannemoed beïndruk in vergeefse stryd
Namibië se moedige kolfbeurt het Vrydag net-net te kort geskiet teen die Proteas se uitdagende totaal, wat meegebring het dat die FNB Eagles uitgeskakel is vir die eindstryd van die FNB T20-driehoekreeks.
In plaas daarvan sou Suid-Afrika en Zimbabwe gistermiddag by die FNB Namibia-krieketveld in Olympia om die geskiedkundige toernooi se eerste wentrofee meeding.
Suid-Afrika (228/4) het Namibië (217/3) met 11 lopies geklop.
Die Eagles het die hoogste totaal nóg deur ‘n ICC-assosiaatlidland in ‘n T20I-wedstryd teen ‘n opponent met toetsstatus aangeteken. Op sosiale media het vele neutrale krieketaanhangers wêreldwyd bewondering vir die Namibiese veggees uitgespreek.
Die totale aantal lopies wat Vrydag aangeteken is (445), is ook die hoogste gesamentlike totaal in die drie T20I-wedstryde wat sedert verlede jaar tussen Suid-Afrika en Namibië gespeel is.
Jan Frylinck (72 van 36 balle; 6x4, 5x6), wat voor ’n moeilike taak te staan gekom het, het aggressief gekolf en die grootste bydrae gelewer tot die openingsvennootskap van 119 lopies in 10.5 boulbeurte.
Sy vennoot, Louren Steenkamp, het ook sy vyftigtal bereik, maar moes ongelukkig vanweë ‘n besering uittree met 61 lopies van 44 balle (5x4, 3x6). Steenkamp het vir ‘n wyle verder probeer kolf nadat hy teen die agterkop getref is deur ’n gooi van die veldwerker Dewald Brevis.
Ten spyte daarvan dat die Suid-Afrikaanse boulers altesaam 13 wydlopers en agt loslopies afgestaan het, het hulle in die laaste paar boulbeurte daarin geslaag om te verhoed dat Gerhard Erasmus (30 nie uit nie van 26 balle; 1x4, 1x6), JJ Smit (9 van 4; 1x6) en Ruben Trumpelmann (21 van 10 balle; 1x4, 1x6) die vereiste tempo kon lig om ’n derde opeenvolgende oorwinning vir die Eagles teen die Proteas te behaal.
Om te wen, het Namibië ná 18 boulbeurte nog 37 lopies benodig, en 24 lopies van die laaste ses balle.
Vroeër het Lhuan-dre Pretorius 101 lopies van 53 balle (5x4 en 8x6) vir Suid-Afrika gemoker, terwyl sy openingsvennoot, Connor Esterhuizen, vinnig tot 88 van 40 balle gevorder het in ’n belangrike vennootskap van 156 om die eerste paaltjie.
Vir die tweede wedstryd ná mekaar is Pretorius as die speler van die wedstryd aangewys.
JC Balt, wat bo Bernard Scholtz verkies is, het met sy draaiballe met 2/31 in 4 boulbeurte geëindig en was die mees ekonomiese bouler vir die dag in die Namibiese eenheid.
Suid-Afrika se kaptein, Bjorn Fortuin, het agterna gesê: “’n Wen is ’n wen, en ons het geleer om nie dinge as vanselfsprekend te aanvaar nie. Ons aanvangskolwers het die toestande baie vinnig beoordeel. En alle eer aan ons boulers vir hul uitstekende spel.”
Gerhard Erasmus, Namibië se kaptein: “Ek dink dit was ’n fantastiese krieketwedstryd vir die toeskouers, met ‘n klomp grenshoue. Ons het ’n paar grenshoue afgestaan en kon toe nie aan die einde van ons kolfbeurt genoeg lopies aanteken nie.
“Dit was ‘n uitstekende poging van ons aanvangskolwers om ons ’n realistiese kans te gee, maar ons kon nie die wedstryd beklink nie.
“Dit was ‘n wonderlike geleentheid om goeie krieket te speel, en ek bedank almal wat kom kyk het. Ons span wil die soort krieket handhaaf waarna mense kan kom kyk en waarop hulle trots kan wees.”



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article