• Home
  • Sport
  • Eagles dreun mekaar op in drie T20's

Eagles dreun mekaar op in drie T20's

Krieket
Andrew Poolman
Die Namibiese nasionale krieketoefengroep het vandeesweek drie suksesvolle opwarmwedstryde in Olympia afgehandel in hul opbou na komende internasionale verpligtinge.

“Namibië” het elk van die drie T20-wedstryde teen “Namibië-A” gewen.

Afrigter Craig Williams se FNB Eagles-groep haal nie die voet van die pedaal af nie, in hul opbou na die komende T20 Wêreldbekertoernooi wat in Februarie voorlê. Die loting is nog nie gedoen om te bepaal wie hul opponente sal wees, of waar in Indië of Sri Lanka hul wedstryde gespeel sal word nie.

Twee Namibiese spelers is ook opgeroep om eersdaags (17 November tot 13 Desember) in die Nepal Premierliga se tweede seisoen hul vernuf te wys.

Nicol Loftie-Eaton sal die Suid-Afrikaners Wayne Parnell en Imran Tahir as spanmaats by die verdedigende titelhouers, die Janakpur Bolts, hê. Gerhard Erasmus behoort ‘n aanwins vir die Kathmandu Gorkhas te wees.

Spelers soos Faf du Plessis, Martin Guptill, George Munsey, Marchant de Lange, Najibullah Zadran, Max O’Dowd, Gulbadin Naib en Dawid Malan is enkele van die internasionale sterre en potensiële wedstrydwenners in die Nepal Premierliga.

Die afgelope week se opgesomde telkaarte:



MAANDAG 10 November by FNB NCG

Namibië-A wen die loot en kies om eerste te kolf.

Namibië-A stel 139/6 op, te danke aan die aanvangspaar WP Myburgh (34 van 29 balle; 4x4 1x6) en Zacheo Janse van Vuuren (27 van 28 balle; 2x4) asook nommer vyf Jan-Izak de Villiers (28 van 23 balle; 1x4 2x6).

Vir Namibië het Junior Kariata met 3/21 in 3 bb uitgeblink, terwyl Bernard Scholtz ook net 0/23 in 4 afgestaan het.

In Namibië se kolfbeurt is die aanvangspaar Jan Frylinck (15 van 17) en Louren Steenkamp (17 van 10) vir betreklik min uitgehaal, maar nommer drie en vier Nicol Loftie-Eaton (40 van 36 balle, 2x4 1x6) en JJ Smit (60 van 38 balle; 5x4 3x6) het met aanskoulike kolfwerk die oorwinning met sewe paaltjies ná 16.5 boulbeurte help verseker.

Speler van die wedstryd: JJ Smit (Namibië).



DINSDAG 11 November by FNB NCG

Namibië-A wen die loot en kies om veldwerk te doen.

Namibië behaal 231/5, gebaseer op die 153-aanvangsvennootskap tussen Jan Frylinck (86 van 53 balle; 8x4 4x6) en Louren Steenkamp (62 van 32 balle; 3x4 6x6) wat onderskeidelik in die 13de en 14 boulbeurt uitgehaal is.

In die oorblywende boulbeurte het JJ Smit (22 van 11 balle, 1x4 2x6) en Ruben Trumpelmann (31 nie uit nie van 16 balle, 4x4 1x6) hulle met ‘n paar goeie kolfhoue laat geld.

Vir Namibië-A kon William Lottering (3/32 in 3 boulbeurte) die paaltjies van Frylinck, Smit en Malan Kruger (geboul vir 4) vier. Net twee boulers het egter minder as 10 per boulbeurt afgestaan – die skoolseun Adriaan Coetzee (1/9 in 2) wat vir Steenkamp laat uitvang het, asook Jan-Izak de Villiers (0/29 in 3).

Namibië-A moes skielik nóg dieper grawe toe WP Myburgh (0) en Zacheo van Vuuren (0) teen die nuwe bal van Smit en Trumpelmann moes terugstap.

Behoorlike weerstand is nietemin deur kaptein Dylan Leicher (66 van 51 balle; 3x4 5x6), Jan-Izak de Villiers (48 van 26 balle; 1x4 6x6) asook JC Balt (39 nie uit nie van 12 balle; een vier, vyf sesse) gebied.

Dian Neethling (15 nie uit nie van 6 balle; 3x4) het teen die einde ook nie teruggestaan nie, maar sy span het met 195/5 steeds met 36 lopies te kort van die teiken geskiet.

JJ Smit was Namibië se uitstaande bouler (2/17 in 3).

Speler van die wedstryd: Jan Frylinck.



WOENSDAG 12 November by HP-Ovaal

Namibië-A wen die loot en kies om veldwerk te doen.

In Namibië se totaal van 135/9 behaal Nicol Loftie-Eaton 50 van 42 balle (2x4 3x6), maar afgesien van Lourens Steenkamp (18 van 13 b) en Malan Kruger (18 van 14 b) kom niemand anders werklik aan die gang nie. Die kaptein Gerhard Erasmus was op 8 toe hy deur WP Myburgh uitgehardloop is.

Die boulers Max Heingo (2/21 in 4 bb), Jack Brassell (2/29 in 4) en Dylan Leicher (2/19 in 2) behaal sukses en Jan-Izak de Villiers bring sy kant met 0/12 in 3.

Namibië-A se 20 boulbeurte eindig op 118/3 en hulle verloor met 17 lopies. Hul topkolwers was WP Myburgh (uitgetree met besering op 43 van 50 balle; 4x4) en Shaun Fouché (36 van 34 balle; 5x4), terwyl Jan-Izak de Villiers onoorwonne op 20 was (15 balle; 1x4 2x6).

As boulers het JJ Smit, Gerhard Erasmus en Bernard Scholtz nie paaltjies geneem nie, maar het elk 4.50 of minder per boulbeurt afgestaan. Ruben Trumpelmann het met 2/34 in 4 van Leicher (16) en JC Balt (1) ontslae geraak.

Speler van die wedstryd: Nicol Loftie-Eaton (50 lopies en 1/21 in 3).



VOORSTE INDIVIDUE

Ná afloop van die reeks is die volgende spelers boaan die individuele ranglys geplaas:

1 JJ Smit (240 punte) / 2 Dylan Leicher (185) / 3 Jan-Izak de Villiers (174) / 4 Nicol Loftie-Eaton (170) / 5 Jan Frylinck (163).

Comments

Namibian Sun 2025-11-15

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment