• Home
  • Sport
  • Drietal behaal podiumposisies in Kilifi-driekamp

Drietal behaal podiumposisies in Kilifi-driekamp

Triathlon
Andrew Poolman

Sondag was 'n goeie dag vir die drie Namibiërs wat in die Keniaanse kusdorp Kilifi naby Mombasa aan 'n Wêreldtriathlon ontwikkelingsbyeenkoms vir die Afrikastreek deelgeneem het.

Maximilian Betts het algeheel vierde geëindig – en tweede in die mans onder 23-afdeling – ná die swemskof van 750 meter in die Indiese Oseaan, die fietsrit van 20 kilometer en die hardloopafstand van 5 km.

Betts het 'n totale tyd van 1 uur 00 minute 17 sekondes aangeteken, agter die wenner Mohamed Aziz Hamdi (Egipte, 00:59:14), Jean Gael Laurent L’entete (Mauritius, 00:59:30) en Eloi Adjavon (Togo, 00:59:42).

Die jong James Langford het algeheel tiende geëindig in 'n groot deelnemersveld van 27 mans. Dit is Vrydag bevestig dat Langford (1:08:19) die enigste Namibiese verteenwoordiger in driekamp by die Olimpiese Jeugspele in Dakar, Senegal, later vandeesmaand sal wees.

Langford het Sondag derde in sy ouderdomsgroep (geboortejare 2009 en 2010) geëindig.

Jana Mutschler het ook uitgeblink met 'n algehele derde plek in die elite-vrouekompetisie, nadat sy die swemgedeelte in die sesde plek voltooi het uit die agt by die wegspringstreep.

Mutschler (1:20:07) het ook die silwerposisie onder die jong meisies ingeneem, agter Algerië se Saleha Berrached (1:19:13).

Die Namibiërs is deur die nasionale triathlonafrigter, Adelé de la Rey, vergesel.

Comments

Namibian Sun 2026-08-11

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment