Curriebeker-finaal: Pumas daag Griekwas uit
Die Airlink Pumas se heelagter Jay-Cee Nel en vyfslot Tiaan de Klerk sal waarskynlik komende Saterdag die enigste Namibiërs in aksie wees wanneer hul span in die 2026 Curriebeker-eindstryd teen die Suzuki Griekwas in Kimberley te staan kom.
Die semifinale is afgelope Sondag afgehandel, met die heersende Curriebeker-kampioene Griekwas wat voor hul tuisskare ‘n wegholoorwinning met 52-12 teen die Leeus bewerkstellig het (rustyd 35-5).
Griekwas het in verlede jaar se eindstryd op Ellispark klippe gekou om ‘n geskiedkundige titel met 27-25 te beklink.
In afgelope naweek se Leeus-span het die jong Namibiër Armand Combrinck as hul haker begin en het ook een van die Gautengers se twee drieë gedruk. Sy drie is ná bykans 20 minute vanaf ‘n lynstaandryf afgerond.
Combrinck het tot laas jaar nog vir die Westelike Provinsie gespeel, nadat sy Varsitybeker-loopbaan vir die Maties deur ‘n besering kortgeknip was.
Griekwas se agttal het egter Sondag in nat en winderige toestande die oorhand gehad en die Poubloues het meer as ‘n dosyn kere balbesit by die afbreekpunte afgeneem. Met hul avontuurlustige agterlyn het die tuisspan ook verskeie aanskoulike drieë afgerond.
Griekwas se afrigter Pieter Bergh het agterna laat blyk dat die sprake van dreigende weerlig in die omtrek hulle gemotiveer het om so haastig as moontlik ‘n gerieflike voorsprong op die telbord te plaas – vir ingeval die weersomstandighede die semifinaal voortydig sou beëindig.
Pumas wen in Bloemfontein
In die ander halfeindstryd het die Pumas, met Nel en De Klerk in hul beginspan, in Bloemfontein met 27-24 die aanslag van die Vrystaters beëindig.
Die Pumas en die Cheetahs was onderskeidelik derde en tweede op die puntestand ná sewe wedstryde elk.
Rustyd het die Cheetahs met 10-3 voorgeloop, maar die ervare Pumas-losskakel Clinton Swart, op sy 34ste verjaarsdag, was hul skopheld met drie doelskoppe en twee strafdoele. Swart is as speler van die wedstryd aangewys.
Die Cheetahs se Namibiese haker Louis (Chucky) van der Westhuizen het in Juliemaand ‘n enkelbesering op die oefenveld opgedoen wat ‘n operasie genoodsaak het wat hom vir drie maande weg van die speelveld sou hou, het Netwerk24 vroeër berig.
Die Namibiese losskakel Tiaan Swanepoel het ook hierdie seisoen om die Cheetahs se 10-trui met Jaco van der Walt (gewese Blou Bul) meegeding.
Beide Swanepoel en die deurwinterde vaskopstut Aranos Coetzee, wat vroeg in die huidige seisoen (Maart) sy 150ste wedstryd vir die Cheetahs teen die Pumas gespeel het, was nie laas Sondag in die halfeindstryd betrokke nie.
• Griekwas het op 21 Augustus hul stem dik gemaak deur die Pumas in Mbombela met 38-14 te oorrompel.
• Griekwas het boaan die puntelys klaargemaak en het net een van hul sewe wedstryde verloor (op 17 Julie teen die DHL Stormers XXIII in Kaapstad met 19-25).
• In Mei vanjaar was dieselfde twee finaliste ook in Kimberley in die SA Beker-eindstryd in Kimberley betrokke. Die Pumas het met 38-35 die knoop teen Griekwas deurgehaak, met twee van die wenspan se drieë deur heelagter Jay-Cee Nel teen sy vorige unie.
• Komende Saterdag se afskoptyd in Kimberley is om 15:00.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article