[Pers]pektief

Jy kan baie van ‘n persoon leer deur net te weet vir watter rugbyspan hulle skree.
Tunohole Mungoba
Esmarie Boshoff

Byvoorbeeld, as jy ‘n Bul is, het jy heel waarskynlik lank terug jou televisie na SuperSport verander, maar darem kan ons almal nog op skolesport staatmaak om vir groot vermaak te sorg.

Hierdie jaar se Super Liga rugbyspanne het elkeen beslis hul harte uit gespeel, met selfs ‘n paar onverwagte kompeteerders, maar die manne het definitief ook met almal se emosies gespeel met elke snik van asem en traan wat gepik is na die eindelike finaal.

Ongelukkig is die sportmangees en die goeie vaardighede wat ten toon gestel is, nie die enigste herinnering wat ons almal daarvan wegvat nie, maar ook die heen en weer gooi van woorde en beskuldigings. Dit laat mens wonder wat die eintlike wedstryd nou was en ongelukkig is die enigste perspektief wat die algemene kyker kry, dié van die pers.

Na aanleiding van ‘n onlangse voorbladartikel, Hare waai by skolerugby, is daar baie verwarring oor wat die eintlike waarheid van hierdie hoofwedstryd is, selfs vir ons wat daar was, en is daar dus ook baie toeskouers wat kwaad en teleurgesteld is oor die keuse van hierdie artikel as voorbladnuus, veral omdat dit wegvat van die eintlike rede hoekom beide ouers en ondersteuners langs mekaar op die pawiljoene hul onderskeie spanne toejuig.

Het ons almal dan harsingskudding opgedoen? Wanneer twee belangrike en gesogte volwassenes vir die Namibiese jeug nou onder dieselfde kam geskeer word as twee popsterre se nuttelose rusie, wil ons vra of die pers genoeg inligting versamel het om hierdie mense, en daarby gesproke hulle skole, onder die mikroskoop te plaas.

Dit is goed en wel dat daar geskryf word hulle “aanvaar almal was baie emosioneel,” maar dis so goed ‘n tienermeisie sê vir haar vriendin aan die einde van slegte raad: “Maar ek weet nie, dis in jou hande.”

Die publiek het te min inligting van die pers ontvang, maar tog is almal vinnig om hul opinies te lug. Tydens onlangse studies is daar bevind dat 62% van alle Amerikaners nie meer hul pers vertrou nie [Robb; 2018] en ons wil beslis nie hê dat die Namibiese pers ook só ‘n duikslag in geloofwaardigheid moet ervaar nie, dit komende van ‘n 18-jarige meisie.

Dit is belangrik vir die publiek om hierdie tipe van stories te hoor, sodat niemand in die donker gelaat word nie, maar met ‘n bietjie meer tyd en inligting, sou die publiek nie steeds so verward wees nie. “Rugby is nie ‘n sport nie, dis ‘n leefstyl,” het my broer in matriek een keer aan my vertel, en dalk is dit in elk geval tyd om te onthou dat dit gaan oor die liefde van die sport en ons kinders en dat dit nie nog ‘n episode van Keeping up with the Kardashians is nie.

Comments

Namibian Sun 2025-05-04

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment