Napso-noodfonds steun privaatskole

JUSTISIA SHIPENA
Mariselle Stofberg



Die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso) fasiliteer tans 'n noodfonds om privaatskole in die land finansieel te ondersteun.

“'n Gesprek met Hugo Vermeulen van die Skoleondersteu­ningsentrum (SOS) het gehandel oor die geweldige bykomende kostes wat 'n skool moet aangaan indien die skool hul vakke van graad R tot graad 12 in Afrikaans as moeder­taal wil aanbied,” sê mnr. Wouter Niehaus, uitvoe­rende hoof van Napso.

“Alle skole wat die Namibiese leerplan volg, het die reg om van graad 1 tot graad 6 in Afrikaans te onderrig, maar daarna is die onderrigtaal Engels en matriek word ook in Engels geskryf.”

“Slegs kinders wat Afrikaans as 'n vak kies neem dan die een Afrikaanse vak tot in matriek.

“Daar is ses skole in die land wat die roete gevolg het om hul volledige onderrig in Afrikaans aan te bied, maar dit kom teen 'n groot finansiële koste aangesien dit slegs deur die IEB-kurrikulum gedoen kan word.”

“Uit die gesprek met mnr. Vermeulen is die idee gebore om 'n noodfonds vir hierdie skole beskikbaar te stel om hierdie bykomende koste te help dek. Nou is die noodfonds egter só aangepas dat enige bydrae vir 'n spesifieke skool wat lid van Napso is, daarin gestort kan word. Die aansoek moet net met die korrekte verwysing gepaardgaan,” het Niehaus gesê.



Moedertaalonderrig

“Enige skool wat dus Afrikaanse moedertaalonderrig in alle grade en vakke vanaf graad R tot graad 12 aanbied, kan vir hierdie hulpfonds aansoek doen. Napso ondersteun al sy lede wat op enige manier finansiële bystand in hierdie tyd benodig. Ons lede bestaan uit alle tale, rasse en kurrikulums. Ons beoog om enige potensiële hulp te bied en enige van ons lede ten volle te ondersteun as dit 'n positiewe impak kan maak,” se Niehaus.

Napso is nog besig om mense te nader om finansiële bydraes tot die fonds te maak, maar hoop om deur die fonds die nood by privaatskole te verlig.

“Instansies of individue kan van die noodfonds gebruik maak om Napso-lidskole wat nie volle Afrikaans onderrig van graad R tot graad 12 bied nie, finansieel te ondersteun. In sulke gevalle is dit net belangrik dat die ver­wysing by die inbetaling 'n spesifieke skool/skole se naam insluit. Sodoende kan fondse vanaf die noodfonds na enige Napso-lidskool gekanaliseer word.

“Hierdie geld word in geheel aan die betrokke skole oorbetaal en Napso stel geen voorvereistes van hoe die geld deur die verskillende skole aangewend moet word nie, aangesien elke skool se nood verskil,” het Niehaus gesê.

Napso fasiliteer slegs die admi­nistrasie van die fonds en glo dat elke instansie of individu eie inisiatiewe kan gebruik om bydraes te bekom.

Napso ondersteun lidskole op talle terreine – van regsadvies, kommunikasie en vergaderings met die regering, tot fasilitering van noodfondse van lidskole, vakkundige hulp op aanlyn gebiede, skakeling en lidmaatskap namens lidskole by die skoleondersteuningsentrum en wolkskool, asook kommunikasie met regeringsinstansies ten opsigte van finansiële bystand aan ledeskole.



Beplan en begroot

“Alles om ten einde ons lidskole in hierdie ekonomiese krisistyd by te staan. Tans het ons 'n versoek aan die ministers van finansies en onderwys oor moontlike staatshulp gerig – nie net aan Napso-lidskole nie, maar ook aan al 206 privaatskole in Namibië.

“Die ministeries het belowe om so gou as moontlik terugvoering oor moontlike bystand te gee,” het Niehaus gesê.

Napso moedig skole aan om op 'n daaglikse basis te begroot.

“Probeer regtig om langtermyndoelwitte en -planne daar te stel om bedryfkoste so laag as moontlik te hou en alles in jul vermoë te doen om nie leerlinge te verloor nie, want sodra ouers se omstandighede agteruitgaan, beteken dit ook 'n verlies vir die skool.”

Niehaus raai skole aan om eerder personeel se salarisse oor 'n langer termyn so minimaal as moontlik te verminder, as om te probeer uithou sonder besnoeiings en dan in die situasie te beland waar skole skielik personeel se salarisse geweldig moet sny.

“Die uitwerking van hierdie pandemie op privaatskole gaan nie sommer binne die volgende paar maande of selfs op Nuwejaarsdag 2021 in 'n oogwink verander nie.

“Doen jou aanpas­sings so gou as moontlik met 'n langtermyn Covid-19-begrotings­plan.

“Die Here het en sal altyd ons rug toemaak vir aanslae op watter gebied ook al indien ons net ons kant ook bring, bly glo en verantwoordelik optree. Wat julle ook al doen, probeer net oop bly – dit kos baie meer om 'n plek oop te maak as om hom toe te maak,” sê Niehaus.

Comments

Namibian Sun 2025-06-30

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment