Mooier, beter en meer bekostigbaar

2026 Renault Duster
Die nuwe 2026 Renault Duster bring ’n vars voorkoms, meer tegnologie en verbeterde padvermoë na die plaaslike mark, hoewel die dae van diesel- en 4x4-aandrywing vir dié gewilde sportnutsvoertuig verby is.
Dirk Gallowitz

Renault SA het onlangs sy opgedateerde Duster in Suid-Afrika bekendgestel, en ons was aangenaam verras tydens die bekendstelling in die mooiste Kaap.

Die 2026 Duster word in Renault se fabriek in Chennai, Indië, gebou. Dit beteken dat die Roemeense Duster met sy Europese spesifikasies amptelik iets van die verlede is. Die fabriek in Chennai word ook gebruik om Nissan se Tekton te bou, wat op die Renault-Nissan-alliansie se CMF-B-platform gemonteer word en dieselfde aandryfstelsels, elektronika, ensovoorts gebruik.

Plaaslik sal die Duster-modelreeks in vyf variante beskikbaar wees, met ’n keuse van twee enjins en twee ratkaste. Ongelukkig het die einde ook aangebreek vir die dieselenjin, en daar sal nie weer 4x4-weergawes beskikbaar wees nie.

Die huidige model met ligte hibriede-aandrywing en vierwielaandrywing sal egter vir die afsienbare toekoms steeds in die plaaslike mark te koop wees.

 

Aandrywing

Die 2026 Duster-reeks bied ’n keuse van twee enjins. Die intreevlakmodelle gebruik ’n 1,0-liter-turbo-aangejaagde petrolenjin wat 74 kW en 160 Nm lewer. Dit is beskikbaar met ’n sesgang-handratkas.

Die tweede opsie is ’n 1,3-liter-turbopetrolenjin wat 116 kW en 260 Nm se piekkrag lewer. Dit kan met óf ’n sesgang-handratkas óf ’n sesgang-dubbelkoppelaarratkas, wat Renault as EDC beskryf, gekies word. Alle modelle stuur die krag na die voorwiele.

Renault SA bied die 2026 Duster in ’n keuse van vyf bakkleure, naamlik River Blue, Moonlight Silver, Pearl White, Sunset Red en ons persoonlike gunsteling, Mountain Jade Green.

 

Afwerkings en toerusting

Kliënte kan kies uit vier afwerkingsvlakke, met die goedkoopste Evolution as intreevlak. Daarna is daar twee Techno-weergawes, met die Techno+ wat ’n nuwe en verbeterde spesifikasievlak bied. Die luukste en topmodel is die Icon, wat ook die model was wat ons tydens die plaaslike bekendstelling bestuur het.

Renault het subtiele veranderinge aan die buitekant van die stilering aangebring vir ’n meer sportiewe en avontuurgerigte voorkoms. Afhangend van die spesifikasievlak, kry die Duster onder meer prominente “DUSTER”-letters op die voorste sierrooster, treffende herontwerpte LED-kopligte, ’n volwydte-LED-ligbalk agter en aantrekliker sierwiele.

Binne is die kajuit effens groter en aansienlik vernuwe en herontwerp, met ’n opgedateerde paneelborduitleg en ’n nuutontwerpte dubbelskerm-inligtingvermaakstelsel.

Renault het die 2026 Duster ook uitstekend toegerus met die Franse maatskappy se OpenR Link-inligtingstelsel, wat draadlose Android Auto en Apple CarPlay as standaardtoerusting bied.

 

Veiligheid

Veiligheid is ook nie nagelaat nie. Die 2026 Duster is onder meer toegerus met ses lugsakke, stabiliteitsbeheer, heuwelwegtrekhulp, banddruksensors en ’n trukamera.

Renault spesifiseer twee groottes vir die bagasieruimte: 518 liter tot by die pakkierak en 1 789 liter met die agtersitplekke neergevou.

Die modelle met hoër spesifikasievlakke word toegerus met ’n groot digitale bestuurderskerm, koordlose slimfoonlaaier, ’n verbeterde klankstelsel, geventileerde voorsitplekke, ’n panoramiese sondak, dubbelsone-klimaatbeheer en ’n elektriese agterklep.

Daar is ook verskeie ADAS-funksies standaard, waaronder aanpasbare spoedbeheer, blindekolwaarskuwing, verkeerstekenherkenning, baanhou-bystand, aktiewe noodremming en ’n 360-grade-kamerastelsel.

 

Op die pad

Hoewel daar dalk nie ’n 4x4-weergawe is nie, het die Duster ’n grondvryhoogte van 212 mm, teenoor 209 mm op vorige modelle. Dit het ook ’n naderingshoek van 26,9 grade en ’n vertrekhoek van 34,7 grade.

Tydens die bekendstellingsrit het ons beide teer- en grondpaaie aangedurf en was ons beïndruk met die lae wind-, pad-, band- en enjingeraas wat selfs teen ooppadspoed die kajuit binnegedring het.

Die ritgehalte was verder indrukwekkend, op sowel grond- as teerpaaie. Greep, balans en die beperkte bakrol in hoëspoeddraaie en swiepe het ’n groot verbetering teenoor die uitgaande model getoon.

Sitpleksgerief, asook kop-, skouer- en beenspasie vir vyf insittendes, was bogemiddeld.

Algeheel het die 2026 Renault Duster ons hart gewen.

 

Comments

Namibian Sun 2026-09-24

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment