Foto ter illustrasie. Foto Mark Stebnicki
Foto ter illustrasie. Foto Mark Stebnicki

Maksimum profyt uit jou veld

Jasper Blaauw

Vleisproduksie lewer ’n belangrike bydrae tot Namibië se landbousektor. Boere soek voortdurend na nuwe voedingstrategieë om meer wins uit hul natuurlike hulpbronne te genereer. Een van hierdie strategieë wat al hoe meer in Namibië toegepas word, is veldafronding – of “veld-lotting”, soos die meeste van ons dit ken.

Ons almal se mikpunt is om die bees so vinnig as moontlik veiling- of slaggereed te kry. Ons begin hierdie metode gebruik sodra die winter aanbreek en ons weidingskwaliteit begin verswak.

Beeste benodig ’n gebalanseerde voorsiening van energie, proteïen, minerale, vitamiene en vesel vir doeltreffende produksie. Natuurlike veld voorsien dikwels voldoende vesel, maar kan onvoldoende energie en ru-proteïen bevat, veral gedurende die droë seisoen wanneer grasse verouder en hul voedingswaarde afneem.


Die veld-lotting-konsep in kort

Beeste kry ’n kragvoerrantsoen vir die dag by voerplekke (die sogenaamde kafeteriastelsel).

Daarna gaan wei die bees om aan sy veselbehoeftes te voldoen.


Natuurlike beweiding voorsien:

• Effektiewe vesel wat noodsaaklik is vir rumengesondheid.

• Herkouaktiwiteit en normale rumenfunksie. Sodra die bees herkou, skei hy speeksel af wat as ’n natuurlike suurbuffer dien en keer dat die rumen se pH-waarde te vinnig daal, om sodoende pensskade te voorkom. Om dit in perspektief te stel: ’n bees sirkuleer daagliks tussen 100 en 200 liter speeksel in sy liggaam.

• Weiding voorsien ook in ’n gedeelte van die dier se daaglikse energie- en voedingsbehoeftes.


Kragvoeraanvulling voorsien:

• Genoegsame energie wat goeie kondisie, groei en metaboliese prosesse verseker.

• Proteïen uit bronne soos oliesaadkoeke of ander proteïenaanvullings, soos ureum.

• Minerale en spoorelemente wat nodig is vir groei, voortplanting en immuniteit.

• Bygevoegde suurbuffers wat die rumen teen beskadiging beskerm.

Die balans tussen veldkwaliteit en die inname van kragvoer bepaal die doeltreffendheid en winsgewendheid van die stelsel.


Bepalers van die voedingsprogram

Alles word bepaal deur die ouderdom en gewigsklas van die dier.

’n Speenkalf van sewe tot agt maande met ’n lewende gewig van 250 kg se energie- en styselbehoefte is baie laer as dié van ’n dier van 400 tot 500 kg. Ons fokus dus meer op proteïenaanvulling vir die 250 kg-kalf en meer op energie vir die dier van 400 tot 500 kg. ’n Dier van 450 tot 500 kg is reeds nader aan sy groeiplato, wat beteken sy voeromsetvermoë raak al hoe minder effektief.

*Hierdie berig het in Augustus se uitgawe van Die Ring verskyn.

Comments

Namibian Sun 2026-08-19

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment