Foto ter illustrasie.
Foto ter illustrasie.

Beskerm diere teen die winterkoue

Kenners deel hul wenke
Praktiese bestuur, tydige voeding en voldoende skuiling kan die verskil maak tussen oorlewing en verliese wanneer strawwe wintertoestande toeslaan.
Wildlife Vets Namibia

Die winter is hier! Terwyl die meeste van ons die geleentheid het om onsself by 'n verwarmer of onder 'n kombers warm te maak, het diere nie daardie luukse nie. In ons aanlyn artikel, Animals and Cold Weather, verduidelik ons wat diere kan doen om hulself teen die koue te beskerm en gee ons praktiese wenke om veeverliese gedurende koue periodes tot die minimum te beperk.

Koue winters kan diere ernstig onder druk plaas, veral dié met min vet onder die vel. Vee vaar oor die algemeen beter as wild, maar erge wind en koue kan steeds probleme veroorsaak. Diere in swak liggaamskondisie loop die grootste risiko, aangesien hulle 'n tekort aan energiereserwes én isolasie het.

Dragtige en lakterende vroulike diere benodig dubbel soveel energie om warm te bly. Indien daar nie in hierdie verhoogde energiebehoeftes voorsien word nie, kan dit lei tot swakheid, swak melkproduksie of selfs vrektes.

Sommige diere kan vrieswonde aan hul ore en sterte opdoen omdat die liggaam die bloedvloei na hierdie ledemate verminder om lewensbelangrike organe te beskerm. Met minder bloedsomloop kan die weefsel in hierdie blootgestelde areas vries en afsterf.

Produsente kan hul diere deur die winter help deur hulle in 'n goeie liggaamskondisie te hou. Maer diere gebruik hul vetreserwes vinnig vir energie, maar vet dien ook as 'n belangrike laag isolasie. Diere in swak kondisie beskik dus nie net oor beperkte energiereserwes nie, maar het ook min fisiese beskerming teen die koue.

 

Tydsberekening van voeding maak saak

As jy weet 'n kouefront is op pad, gee jou diere laatmiddag 'n maaltyd van goeie gehalte ruvoer (gras, hooi, ens.). Dit is meer as net kos.

Die fermentasieproses in die rumen produseer hitte deur die nag. Mikrobes in die rumen breek die ruvoer af en stel terselfdertyd hitte vry. Die meeste hitteproduksie vind ongeveer vier tot ses uur ná voeding plaas.

As diere vroegoggend gevoer word, bereik die fermentasiehitte sy piek rondom die middag wanneer die temperatuur reeds hoër is. Teen middernag is die vertering grotendeels voltooi en word min of geen hitte meer geproduseer nie. Voeding laatmiddag verskuif die hittepiek na ongeveer 22:00 tot 02:00, wanneer die buitetemperatuur gewoonlik die laagste is.

 

Skuiling teen die wind

As diere teen die wind kan skuil, maak dit 'n groot verskil. Dit kan natuurlike bos of selfgeboude windbrekers wees.

Ons glo dit is belangrik om radikale ontbossing, waar groot gebiede skoongemaak word, te vermy. Bosse en bome bied beskerming teen die elemente – wind, koue en son. Baie wildspesies versteek hul kleintjies gedurende die eerste paar dae van hul lewe in digte bos.

Blaarvreters, veral spesies wat gevoelig is vir koue, soos koedoes en njalas, ly onder die verminderde beskikbaarheid van blare én die gebrek aan skuiling.

Die swarthaak is dikwels een van die eerste bome wat ná die winter begin uitloop, blom en peule dra, en verskaf sodoende noodsaaklike voedsel aan blaarvreters soos koedoes.

Vir sensitiewe spesies wat in kleiner kampe aangehou word, kan 'n skuiling gebou word deur hooibale in 'n doolhofvorm te stapel en hooi as beddegoed binne te plaas. Hierdie skuilings is baie doeltreffend. Veral by wilde diere behoort dit vroeg in die winter, naby voer- en drinkplekke, opgerig te word. Dit gee die diere genoeg tyd om aan die struktuur gewoond te raak en veilig te voel om dit op koue nagte te gebruik.

Maak seker die ontwerp het verskeie openinge sodat diere vrylik in en uit kan beweeg sonder om vasgekeer te voel.

 

Koop diere uit soortgelyke klimaatstreke

Wanneer jy wild aankoop, veral eksotiese spesies uit warmer subtropiese streke, soos njalas, basterwaterbokke of bosbokke, is dit beter om diere aan te koop van wildplase waar hulle reeds vir verskeie geslagte aan kouer toestande blootgestel is.

Binne Namibië sal diere uit tradisioneel kouer gebiede, soos Nina of Seeis, oor die algemeen makliker aanpas wanneer hulle na plekke soos Tsumeb verskuif word as andersom.

Deur diere te kies wat reeds aan koue gewoond is, verbeter jy die kans om verliese gedurende strawwe winters te beperk, aangesien hulle waarskynlik beter by koue toestande aangepas is. - Bron: Wildlife Vets Namibia

 

Comments

Namibian Sun 2026-07-02

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment