• Home
  • golf
  • Wilma Bredenhann beklink 20ste Coastal Open

Wilma Bredenhann beklink 20ste Coastal Open

Gholf
Doulaine Holtzhausen was die voorloper ná die eerste dag, maar soos gebruiklik het Bredenhann algaande beter gespeel.
Andrew Poolman

By Rössmund Gholfklub se baan buite Swakopmund is die 2026 Hollard Ladies Coastal Open vrouekampioenskap die afgelope naweek vir die 20ste opeenvolgende jaar aangebied – ‘n fantastiese mylpaal vir vrouegholf.

De Villiers Nel van Hollard het onderneem dat die maatskappy sy steun aan die toernooi sal voortsit.

Toestande vir gholf was beide Saterdag en Sondag ideaal vir die veld van 27 spelers van die gasheerklub Rössmund, Windhoek, Omeya, Walvisbaai, Hentiesbaai en selfs besoekers uit Duitsland.

As ‘n amptelike toernooi op die jaarkalender van die Namibiese Amateur Vrouegholfunie (Nalgu) was daar motivering vir spelers om hul beste te lewer vir die nasionale merietelyspunte wat op die spel was.

Aan die einde van die eerste dag was Doulaine Holtzhausen die voorloper met ‘n bruto telling van 85, gevolg deur Hentiesbaai-klub se “ou Lister-enjin” Wilna Bredenhann (87) en Wilma de Wet (88).

In die B-afdeling was Rina Knight en Katharina Gallas van Duitsland gesamentlik die voorlopers op 97 bruto, terwyl drie spelers gelyk boaan die C-afdeling se stableford-puntestand was (35 elk), naamlik Wiebke Frey, Lynette Rautenbach, Debbie Gossow.

Wilna Bredenhann – wat as ‘n merkwaardige voetnota in elke Coastal Open-toernooi in die afgelope 20 jaar gespeel het – was ooglopend in ‘n vasberade bui om te wen en het konsekwent goeie spel gelewer. Met ‘n tweede rondte van 85 het sy die kampioenskapstitel ingepalm, terwyl Doulaine Holtzhausen met ‘n 92 uitgesak het teenoor Wilma de Wet se 87.

‘n Geskenkpak is tydens registrasie aan elke speler oorhandig. Soos gebruiklik het Hollard spelers op en van die baan met verskeie verrassings bederf, en die wenners se pryse was opnuut aanloklik, wat verklaar hoekom die toernooi altyd gewild is as een wat nie misgeloop behoort te word nie. Die Hollard-span se moeite agter die skerms en die gees van kameraderie maak die toernooi spesiaal.

France Horn, ‘n voormalige vroueklubkaptein wat ook in die beginjare gereeld in die toernooi gespeel het, was ook ‘n gas by die prysuitdeling.

Ter herdenking van die 20-jarige verhouding het Nalgu en Rössmund se vrouespelers die oorspronklike telbord van die 2006-toernooi, geraam en met handtekenings, aan Divvie Nel van Hollard oorhandig.

As ‘n laaste verrassing vir die dag is ‘n Hollard-gelukstrekking gedoen vir ‘n prys wat deur Anja Wessels losgeslaan is.

Die voorste uitslae:

Algehele beste bruto (kampioen): Wilna Bredenhann 172.

Beste bruto naaswenner: Wilma de Wet 175.

Algeheel beste netto: 1 Rina Knight (147), 2 Mariena Ludwig (150).

A-afdeling, beste bruto: 1 Doulaine Holtzhausen (177).

A-afdeling, beste netto: 1 Ruanda de Beer (158).

B-afdeling, beste bruto: 1 Suné Venter (194).

B-afdeling, beste netto: 1 Justine Shikulo (160).

C-afdeling (stableford-formaat) algehele wenner: 1 Johandre Viviers (67 punte).

C-afdeling beste gemiddeld: 1 Gaby Adams (36 punte), 2 Wiebke Frey (32.5); 3 Lynette Rautenbach (31.5).

Comments

Namibian Sun 2026-01-28

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment