Skietgoed kom kort om VSA in WB-stryd te stuit
‘n Afdag wat die veldwerk betref het Namibië se kanse verspeel om gister die nodige tande te wys om die VSA in hul T20 Wêreldbeker-krieketwedstryd in Chennai, Indië, te stuit.
Deels te danke aan verlore vangkanse het die VSA gevolglik daarin geslaag om 199 vir vier op te stel, wat oorgenoeg was om die FNB Eagles tot 168 vir ses te beperk en die Groep A-wedstryd met 31 lopies te wen.
Namibië is sover wenloos by vanjaar se T20 Wêreldbeker en kan dus nie meer vir die Super 8-fase kwalifiseer nie. Die span vertrek nou na Colombo in Sri Lanka waar hul laaste groepwedstryd teen Pakistan komende Woensdag voorlê.
Straks die duurste glips gister aan die Namibiese kant was reeds in die eerste boulbeurt van die dag, nadat die VSA die loot gewen en gekies het om eerste te kolf. Die VSA-kaptein Monank Patel was op nul (0.3 boulbeurte) toe hy ‘n aflewering van Ruben Trumpelmann na die puntposisie bo die kop van Dylan Leicher tussen sy hande deur geslaan het.
Patel het uiteindelik met 52 van 30 balle (drie viere, drie sesse) ‘n toonaangewende rol gespeel.
Later in die VSA-beurt was Trumpelmann opnuut die ongelukkige bouler toe hul nommer vier Sanjay Krishnamurthy (met sy telling op 22 van 12 balle; 16.1 bb) oënskynlik deur Gerhard Erasmus uitgevang is. Die TV-kykweer het egter bevestig dat die bal uit die Namibiese kaptein se greep geglip het.
Krishnamurthy is uiteindelik as die speler van die wedstryd aangewys vir sy kolfbeurt van 68 nie uit nie van 33 balle (vier viere, ses sesse).
Die stadiger boulers Willem Myburgh (2/22 in 4 bb) en Erasmus (2/27 in 3) asook Nicol Loftie-Eaton (0/5 in 5) was op die dag meer doeltreffend as die vinniger manne, met Trumpelmann wat met ‘n onvleiende 0/52 in 4 bb (ekonomie 13.0) tevrede moes wees. JJ Smit het in sy drie boulbeurte deurgeloop met onderskeidelik 11, 19 en 13 lopies (0/43 in 3; ekonomie 14.33).
Kolfbeurt verloor oemf
In die aansig van ‘n vereiste kolftempo van 10.0 per boulbeurt het Louren Steenkamp en Jan Frylinck (19 van 15 balle; 1x4 1x6) hul span aanvanklik op koers geplaas vir ‘n later aanslag – wat egter nie gerealiseer het nie.
Steenkamp het die Eagles se eerste vyftigtal van die toernooi behaal (58 van 39 balle; 5x4 3x6) en sy vennootskap met Frylinck is op 54/1 ná 5.2 boulbeurte beëindig.
Nicol Loftie-Eaton het vier viere geslaan op pad na 28 van 17 balle, voordat hy Saurabh Netravalkar se boulwerk met ‘n omgekeerde veeghou wou aanvat en uitgevang is.
Die VSA se gebore Kapenaar Shadley van Schalkwyk het die paaltjies van Frylinck en Erasmus (6 van 10 balle) opgeëis om met 2/30 in 4 bb sy posisie aan die toppunt van die toernooi se paaltjienemende boulers te verstewig.
Zane Green het op 18 van 13 balle uitgetree ten gunste van Trumpelmann (3* van 2 balle) – hoewel die slag ná 18 boulbeurte (Namibië 149/5) reeds gelewer was.
Namibië is die enigste span van wie kolwers in ‘n T20 Wêreldbeker-wedstryd uitgetree het. Die Eagles het dieselfde taktiese besluit in 2024 in ‘n reënverkorte wedstryd teen Engeland in Antigua geneem toe David Wiese by Niko Davin (18 van 16 balle) oorgeneem het.
Die VSA het gister steeds ‘n wiskundige kans op kwalifisering gehad ná sy oorwinnings teen Namibië en Nederland.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article