• Home
  • cricket
  • Oorwinning teen Afghanistan wys Eagles is skerp
Ruben Trumpelmann het met sewe paaltjies in twee wedstryde teen Afghanistan gewys hy is op dreef vir die ICC T20 Wu00EAreldbeker. Foto Floris van Schouwenburg
Ruben Trumpelmann het met sewe paaltjies in twee wedstryde teen Afghanistan gewys hy is op dreef vir die ICC T20 Wu00EAreldbeker. Foto Floris van Schouwenburg

Oorwinning teen Afghanistan wys Eagles is skerp

Krieket
Ruben Trumpelmann het met sewe paaltjies in twee wedstryde teen Afghanistan gewys hy is op dreef vir die ICC T20 Wêreldbeker. Foto Floris van Schouwenburg
Andrew Poolman

Sedert hul vroegtydige vertrek uit Windhoek is die FNB Eagles ten volle ingestel om hul skerpheid op te knap vir die naderende ICC T20 Wêreldbeker wat op 7 Februarie in Indië begin.

In die afgelope week in Dubai het die Namibiërs in twee nie-amptelike opwarmwedstryde teen die gedugte Afghanistan kragte gemeet – met elke span wat een keer aan die wenkant was.

“Dit was ‘n goeie oorwinning vandag teen ‘n baie goeie span. Ons het geen beserings in die spelersgroep nie. Almal is op ‘n goeie plek wat hul geestelike ingesteldheid, fisieke kondisie en vlak van prestasie betref,” was Craig Williams se bondige reaksie ná Woensdag se oorwinning.

Afghanistan is tans tiende op die ICC se wêreldranglys vir mans, met Namibië in die tiende plek.

Vyftigtalle deur JJ Smit en Louren Steenkamp was goeie nuus, terwyl die gevaar van Ruben Trumpelmann se linkerarm-snelballe hom sewe paaltjies in die twee wedstryde besorg het.

Die opgesomde telkaarte:

 

MAANDAG 26 Januarie

Afghanistan wen die loot en kies om te kolf.

Afghanistan behaal 197 vir ses in 20 boulbeurte. Ruben Trumpelmann verwyder beide die aanvangskolwers Rahmanullah Gurbaz (gevang Max Heingo) en Sediqullah Atal (gevang Jan Frylinck) vir onderskeidelik 23 en 31 lopies.

Die meerderheid van Afghanistan se totaal is egter deur Mohammad Ishaq (40 van 26 balle, vyf viere, drie sesse) en Mohammad Nabi (64 nie uit nie van 27 balle; 8x4 1x6) aangeteken. Hul vennootskap van 72 lopies is beëindig toe Ishaq die derde paaltjie vir Trumpelmann (3/18 in 3 boulbeurte) geword het, te danke aan ‘n vangskoot deur Nicol Loftie-Eaton.

Namibië kon nie werklik ‘n stewige vroeë vennootskap vestig nie weens die verlies van Louren Steenkamp (5), Jan Frylinck (7), Nicol Loftie-Eaton (16 van 10 balle) en Gerhard Erasmus (12 van 8 balle), met paaltjies wat op 7, 27, 44 en 44 geval het.

Malan Kruger (26 van 21 balle; 6x4 3x6) het ‘n ondersteunende rol gespeel terwyl JJ Smit sy geasag met ‘n puik vyftigtal begin afdwing het (50 van 25 balle; 10x4).

Zane Green (16 van 13 balle) en Trumpelmann (19 van 12 balle) het elkeen drie grenshoue geslaan, maar uiteindelik was die teiken buite hul bereik.

Op 171 is die Eagles almal uit (18.2 boulbeurte) en Afghanistan wen met 26 lopies.

Zia-ur-Rahman is die Afghane se toonaangewende bouler met 3/21 in 3 boulbeurte.

 

WOENSDAG 28 Januarie

Namibië wen die loot, kies om eerste te kolf en behaal 159/5 in20 boulbeurte.

Die aanvangskolwer Louren Steenkamp het hom dié keer goed ingegrawe om 73 lopies van 52 balle te behaal (sewe viere, twee sesse). Nadat Loftie-Eaton as sy eerste kolfmaat vir 1 uitgevang is, het Jan Frylinck ook aan die gang gekom tot hy vir 25 van 29 balle geboul is.

Gerhard Erasmus (2) se ambisie is gou gesmoor, voordat JJ Smit (29 van 18 balle), Zane Green (12 nie uit nie van 11 balle) en Trumpelmann (7 nie uit nie van 5 balle) die kolfbeurt tot ‘n einde gebring het.

Trumpelmann se aptyt vir vroeë paaltjies het hom binne die eerste twee boulbeurte van Sediqullah Atal (1), Rahmanullah Gurbaz (0) én Darwish Rasooli (4) ontslae laat raak.

Toe Ben Shikongo boonop ook vir Gulbadin Naib (4) deur die einste Trumpelmann laat uitvang, het Afghanistan op 4/9 ná 3.4 boulbeurte gesteier.

Azmatullah Omarzai (37 van 28 balle; 3x4 1x6) het moedig probeer teëskop en hul kaptein Rashid Khan het ook met ‘n ses losgetrek, maar laasgenoemde is op 10 deur JJ Smit uitgevang om Trumpelmann se vierde vir die dag te word (4/9 in 3 boulbeurte).

Die boulwerk was suinig met net 4 ekstras in die Afghane se totaal van 85 almal uit – vir Namibië se wegholoorwinning met 74 lopies.

 

Glips teen Italië

Die Namibiërs het laat gistermiddag in Dubai op verrassende wyse teen Italië met drie paaltjies verloor.

Die Eagles het Gerhard Erasmus (76 van 46 balle; 5x4 4x6) vir die meeste van hul totaal van 165/6 te danke gehad, met steun van Louren Steenkamp (24 van 20) en JJ Smit (23 van 18 balle).

Italië is egter deur die gewese Suid-Afrikaner Jon-Jon Smuts (48 van 36 balle) en sy maats gelei, wat die wenlopie met die laaste bal behaal het.

 

Volgende

Die Namibiërs, wat nou na Indië sal aanbeweeg, se vroeër geskeduleerde opwarmwedstryd teen Wes-Indië wat komende Maandag sou geskied, is intussen gekanselleer.

Hul twee amptelike opwarmwedstryde is soos volg:

Woensdag 4 Februarie teen Skotland in Bengaluru (09:30 Namibiese tyd / 13:00 plaaslik).

Vrydag 6 Februarie, teen Indië-A in Chennai (13:30 Namibiese tyd / 17:00 plaaslik).

Comments

Namibian Sun 2026-01-30

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment