Junior Proteas rook nie pyp in O.19 WB
Die verdedigende titelhouer Australië het gister Suid-Afrika se kanse die nekslag toegedien in die ICC O.19 Wêreldbeker, deur hul kragmeting in die Super 6-fase met ses paaltjies te oorheers.
Australië, wat nog onoorwonne in die toernooi is, het sy vroeër suksesresep teen Sri Lanka herhaal deur by die FNB Namibië Krieketstadion in Windhoek die loot te wen en sy kwartet van snelboulers vrye teuels te gee.
Suid-Afrika se totaal van 118 almal uit (32.1 boulbeurte) het min druk geplaas op die jong Aussies, wat nou met een voet in die halfeindrondte staan. Jorich van Schalkwyk (26), Muhammad Bulbulia (19) en Paul James (34) was die enigste ligpunte.
Charles Lachmund is as speler van die wedstryd bekroon vir sy 3/29 in sewe boulbeurte.
Die junior Proteas-boulers het nietemin nie gaan lê nie en het hul aartsvyand tot in die 33ste boulbeurt laat spook om die wenlopies op die telbord te plaas. JJ Basson het 3/31 in 10 bb platgetrek. Steven Hogan (43 van 73 balle) het die Aussies se kolfbeurt geanker.
• Maandag se bepalings in die Super 6: Afghanistan tn Sri Lanka (FNB NCG, Windhoek); Engeland tn Bangladesj (Bulawayo). In Harare sal die wenlose spanne Skotland en VSA vir die laaste posisie uitspeel.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article