Vrouespan mik na derde Nkosi-bekertitel op ‘n streep
Hokkie
Vir beide die mans en vroue moes Namibië dié week ongewoon jeugdige spelersgroepe Kaap toe stuur.
Die oorvleueling in die tydsduur van die Nkosi-beker binnenshuise hokkietoernooi in Kaapstad met o.21-veldhokkie se twee Wêreldbekertoernooie (mans in Indië en vroue en Chili) was ‘n groot faktor in die samestelling van elk van Namibië se vier betrokke spelersgroepe.
In Kaapstad berei afrigters Trevor Cormack (mans) en Shayne Cormack (vroue) en hul spelersgroepe voor vir nog ‘n opwindende internasionale toernooi wat vandag afslaan.
Die Namibiese vrouespan verdedig hul titel nadat hulle in Desember 2024 se Nkosi-toernooi vir Suid-Afrika in die eindstryd met 3-1 geskok het (twee doele deur Jivanka Kruger en een deur Kiana-Che Cormack).
Namibië het inderdaad in 2023 ook met die vrouetitel weggestap, toe hulle Suid-Afrika met 4-2 verslaan het (drie doele deur Cormack en een deur Gillian Hermanus).
Die Namibiese mededinging met Suid-Afrika is altyd vuurwarm, maar die ander twee uitdagers in die vrouetoernooi, Zimbabwe en Nieu-Seeland durf ook nie onderskat word nie.
Vyf skoolmeisies bevind hulle komende naweek in die Namibiese binnenshuise vrouegroep. Tamara Grögli en Leila Grögli het vanjaar by DHPS skoolgegaan, maar was lede van St. Paul’s se oorheersende meisiespan wat ook die nasionale liga gewen het. Die susters volg in die spore van hul ma Andrea Grögli wat ook vir jare ‘n nasionale staatmaker was.
Sienna Richards en Ottilie Hinda is ook vanuit die gedugte St. Paul’s eerstespan nader geroep, asook Allison January wat intussen vanaf St. Paul’s na St. Cyprians in Kaapstad aanbeweeg het.
‘n Prominente afwesige speler vir Namibië is laas jaar se wenkaptein Gillian Hermanus, wat vanweë ‘n voetbesering geopereer moes word en nog aan die herstel is. Die susters Jivanka Kruger en Jahntwa Kruger was ook nie beskikbaar vir die Kaapse toernooi nie.
Die talentvolle Azaylee Philander was ook onbeskikbaar, as kaptein van die Namibiese o.21-vrouespan wat tans in Chili by die FIH Junior Wêreldbeker meeding.
Gevolglik sal die ongewoon jeugdige Namibië-span swaar steun op die ondervinding van doelwagter Petro Stoffberg, Sunelle Ludwig, Danja Meyer, Jerrica Bartlett en die nuwe kaptein Kiana-Ché Cormack.
MANS
In die manstoernooi is die VSA en Zimbabwe die ander twee uitdagers wat sal streef om ná Suid-Afrika en Namibië se verskynings in die laaste twee eindstryde vir ‘n verrassing te sorg.
In verlede jaar se finaal was die Suid-Afrikaners met 3-2 die kampioene. In die debuuttoernooi van 2023 het Namibië ‘n groepwedstryd teen Suid-Afrika met 5-2 gewen, maar die Proteas het in die eindstryd teen ‘n verwoede tempo ingeklim en het met 10-2 die krane oopgedraai.
John-Paul Britz (die o.21-veldhokkiespan se kaptein by die Wêreldbeker in Indië), Liam Hermanus, David Britz, Fagan Hansen en Dakota Hansen is van die ander prominente spelers wat om verskeie redes nie vir die Nkosi-bekertoernooi beskikbaar was nie.
SPANNE
Namibië vrouespan: Petro Stoffberg (doelwagter), Alexandra Erasmus (doelwagter), Kiana-Ché Cormack (kaptein), Amber Dercksen, Leila Grögli, Tamara Grögli, Ottilie Hinda, Sunelle Ludwig (onderkaptein), Danja Meyer, Sienna Richards, Jerrica Bartlett, Allison January.
Namibië manspan: DJ Strauss (kaptein en doelwagter), Richter van Rooyen (doelwagter), Ernest Jacobs (onderkaptein), Delron Handura, Giovane Handura, Matukaramove Kavikairiua, Shayan Azadeh, Percy Barthram, Dylan Finch, Matthew Lassen, Ludwig van Rooyen, Jack Fourie.
• Volledige wedstrydbepalings op bladsy 2.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article