Kutara en Bredenhann seëvier in Rössmund Ope
Gholf
Weerstoestande was oor die algemeen gunstig vir die gholftoernooi wat onder 'n nuwe borgskap aangebied is.
Edwin Kutara en Wilna Bredenhann is die afgelope naweek as die 2025 Rössmund Ope se kampioene bekroon. Die Rössmund gholfklub buite Swakopmund het die toernooi gesamentlik onder die vaandel van die Namibiese Amateurgholfunie (Nagu) en die Namibiese Amateurvrouegholfunie (Nalgu) aangebied.
Wilna (Hentiesbaai-gholfklub) en Edwin (Grootfontein) is geen vreemdeling vir toernooie by Rössmund nie. Die veld het bestaan uit 72 spelers van oraloor Namibië wat in hul onderskeie afdelings meegeding het.
Weerstoestande was oor die algemeen gunstig vir gholf; hoewel dit met tye warm was, was die humiditeitsvlakke ook hoog, wat die regte keuse van gholfstokke vir die naderhoue noodsaaklik gemaak het.
Beide die uiteindelike kampioene het vanaf die eerste rondte hul voet op die pedaal gehou. Edwin het die enigste rondte onder baansyfer aangeteken (70 bruto), gevolg deur Kasoma Paulino met 'n eerste rondte van 72 bruto.
In die middag het Edwin 'n 76 bruto behaal, wat hom aan die einde van dag 1 voor met 146 bruto geplaas het, met 'n voorsprong van sewe houe voor Elias Mulombwelwa (Windhoek-gholfklub) gegee het.
In die B-afdeling was die veld wyd oop met Rudi Auseb junior op 163 bruto, een hou voor Simon Heinrich (164). Fred van Zyl was die voorloper in die C-afdeling met 90 bruto, gevolg deur Mark Jacobs (9).
In die vroue-afdeling het Wilna Bredenhann die voortou geneem met 84 bruto. Achmet Abrahams was boaan die stableford-afdeling met 33 punte.
Voor die prysuitdeling het die Nagu-president, Toady Gurirab, en Nalgu-president Suné Venter die spelers toegespreek. Hulle het die toernooi se nuwe borg, Bachmus ondersteun deur King Price, bedank vir hul deelname en almal betrokke by 'n wonderlike toernooi.
Vir die organiseerders was dit wonderlik om Braam Vermeulen, uitvoerende hoof van King Price, op die baan te sien asook dat Corné Schalkwyk van Bachmus die prysuitdeling behartig het.
Die klubkaptein van Rössmund-gholfklub, George Murasiki, het sy komitee bedank vir hul gesamentlike pogings om die toernooi 'n sukses te maak.
Die voorste uitslae:
2025 Bachmus Rössmund Ope vroue-kampioen (beste bruto) en ontvanger van die Erica Schlusche wisseltrofee: 1Wilna Bredenhann (172); 2 Doulaine Holtzhausen 179.
Vroue beste netto: 1 Lynette Rautenbach (148); 2 Justine Shikulo (150).
2025 Bachmus Rössmund Ope manskampioen (beste bruto): 1 Edwin Kutara (225); 2 Elias Mulombwelwa (230).
Algeheel beste netto: 1 Rudi Auseb junior (216); 2 Simon Heinrich (221).
A-afdeling beste bruto: 1 Wensley Haseb (233); 2 Jackson Kawaya (236).
A-afdeling beste netto: Alfie Ndyenge (230); 2 Erlifo Naobeb junior (231).
B-afdeling beste bruto: 1 1 Helmut Ndjendja (260); 2 Lukas Steven (261 uittel).
B-afdeling beste netto: 1 Joseph Martin (224); 2 George Murasiki (227).
C-afdeling beste bruto: 1 Fred van Zyl (178); 2 Mark Jacobs (182).
C-afdeling beste netto: 1 Steven Massipa 144; 2 Fabianus Shilongo 155.
Vroue A-afdeling beste bruto: 1 Eveline Paulino (194).
Vroue A-afdeling beste netto: 1 Secilia Nkoshi (163).
Vroue B-afdeling beste bruto: 1 Tiekie de Wet (205).
Vroue B-afdeling beste netto: 1 Heidi van Niekerk (159).
Stableford-afdeling: 1 Achmet Abrahams (68 punte); 2 Fred Bossé (65); 3 Douglas Holtzhausen (62).



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article