• Home
  • Sport
  • WHS voor Superliga se semifinaal uitgeskakel

WHS voor Superliga se semifinaal uitgeskakel

Skolehokkie
Andrew Poolman

Die hoog aangeskrewe doelwagter en kaptein van St. George’s se eerste seunshokkiespan, Lyle Bruys, was ’n deurslaggewende faktor toe sy span Dinsdagaand die heersende kampioen, Windhoek Hoërskool (WHS), in ’n aksiebelaaide en spanningsvolle kwarteindstryd van die NSSU Superliga vir seuns uitgeskakel het.

Die gewone speeltyd by WHS se Trustco Davin-astrobaan het met 3-3 gelykop geëindig, wat ’n valbyl vereis het om die wenner te bepaal.

St. George’s het die valbylstryd met 4-1 beklink en sodoende die bordjies verhang teen die teenstander wat hulle in die 2025-Superligafinaal geklop het.

Teen rustyd was die spanne op 0-0 voordat albei hul korrel voor die doelkas begin vind het.

WHS het verreweg die meeste doelkanse geskep, maar Bruys se doelwerk het hulle gekeer. Intussen, aan die ander kant, het St. George’s die meeste gemaak van elke kans wat hulle gekry het.

WHS se nommer 7, Rachimo Simwanza, het drie velddoele in gewone speeltyd aangeteken, terwyl St. George’s geantwoord het met doele deur Shayan Azadeh (2) en Micah Chase.

In die beslissende strafdoelreeks was dit St. George’s wat met 4-1 geseëvier het.

St. George’s – wat sesde op die punteleer geëindig het en die tweede geplaaste WHS uitgeskakel het – het deurgedring om vanaand in die halfeindstryd teen Windhoek Gimnasium (derde) te staan te kom.

Die ander halfeindstryd vir seuns sal tussen St. Paul’s (eerste) en Windhoek Affies (vierde) beslis word.

WHS se afrigter, Johann Weyhe, het agterna gesê die vlak van hokkievaardigheid ondanks beide spanne se jeugdigheid was indrukwekkend. “Selfs net uit hierdie twee eerstespanne sal ‘n mens maklik ‘n span kan saamstel wat waardig op ‘n nasionale vlak kan meeding. Dit spreek van die gesonde plek waarop seunshokkie in Namibië hom tans bevind.”

 

UITKLOPWEDSTRYDE BY AFFIESPARK

Die NSSU meisies-Superliga-halfeindstryde sou gisteraand afgehandel word (St. Paul’s teen WHS / Windhoek Affies teen Windhoek Gimnasium).

Seuns-superliga-halfeindstryde, Donderdag 10 September

Windhoek Gimnasium teen St. George’s – 18:00

St. Paul's teen Windhoek Affies – 19:45

 

SUPERLIGA FINALE op Vrydag 11 September by Affiespark

Meisies-superliga-finaal – 18:00

Seuns-superliga-finaal – 19:45

Comments

Namibian Sun 2026-09-10

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment