Veterane val vas teen Kanada by Wêreldbeker
Gerrie Snyman se Namibiese veteranekrieketspan kon Sondag nie by Kanada verby kom in hul kragmeting by die Internasionale Meesterskrieket (IMC) Wêreldbeker vir spelers van 40 en ouer nie.
Kanada (281 almal uit in 43.5 boulbeurte) het in Guyana se hoofstad Georgetown met 48 lopies gewen, nadat hy Namibië tot 233 almal uit (43.5 bb) beperk het.
Henry Hayes, wat sy klubkrieket vir United in Windhoek speel, was ‘n veelsydige uitblinker en is net kort van ‘n honderdtal uitgehaal.
Kanada se wentotaal van 281 was op vyftigtalle deur aanvangskolwer Bhavneet Bathla (55 van 55 balle; 7x4 1x6) en kolwer nommer vyf Royston Crandon (58 van 60 balle; 6x4) gebou, terwyl hul kaptein Shailesh Patel 38 van 39 balle (4x4) bygedra het.
Crandon is die toernooi se toonaangewende kolwer met 455 in ses kolfbeurte (gemiddeld 91.00; kolftempo 125.69), voor Skotland se Kyle Coetzer (366).
Henry Hayes het drie paaltjies vir 47 in ses boulbeurte geneem, met goeie bystand van Nicky Buys (2/26 in 5), Johan Geldenhuys (2/48 in 9) en Jaco Duvenhage (2/21 in 2.5).
Die Namibiese aanvangspaar John Valentin (10 van 9 balle; 2x4) en Janse Janse van Rensburg (7 van 12 balle; 1x4) is uitgehaal voordat hulle veel skade kon aanrig. Gerrie Snyman (38 van 24 balle; 7x4) het dadelik met aanvallende voornemens ingestap, terwyl Nicky Buys (27 van 47 balle; 2x4) ‘n ankerrol vervul het – veral toe hy later saam met Henry Hayes gekolf het.
Hayes is uiteindelik vir 95 uitgeboul nadat hy elf viere en vyf sesse van 74 balle gemoker het. Hy het die mees vrugbare boulbeurt van die wedstryd (15 lopies) met twee viere, ‘n ses en ‘n enkellopie van Manpreet Khaira in die 25ste boulbeurt geoes.
Hayes se vertrek in die 34ste boulbeurt was egter ‘n terugslag en Jaco Duvenhage (6), Jaco Schoonbee (1) en Colin Steytler (3) kon nie behoorlik aan die gang kom nie. Hendrik Geldenhuys het vier grenshoue geslaan (22 van 37 balle), maar hy en Conrad Jacobs (12 van 16 balle; 2x4) kon hul span ook nie binne trefafstand van die teiken bring nie.
STAND VAN SAKE
Die Namibiërs bevind hulle tans in die 12de posisie uit 15 spanne in die toernooi, nadat hulle oorwinnings teen die onderste twee spanne Wallis (14de) en Colombia (15de) behaal het.
In Saterdag se oorwinning teen Wallis het die Namibiërs 319 vir 8 in 45 boulbeurte opgestel danksy vyftigtalle deur Nicky Buys (78 van 64 balle; 8x4 3x6) en Gerrie Snyman (54 van 36 balle; 6x4 4x6), voordat hulle die Walliesers vir 278 uitgeboul het (Nicky Buys 4/33 in 7.1 boulbeurte).
Hul nederlae was teen Australië, Wes-Indië en Kanada. Hul laaste groepwedstryd word Woensdag teen Suid-Afrika gespeel.
Aan die bopunt van die puntelys woed ‘n gelykop stryd tussen die topvyf spanne. Australië (eerste), Pakistan (tweede), Engeland (derde) en Suid-Afrika (vierde) het elkeen vier uit vyf wedstryde gewen. Kanada is tans vyfde geplaas – ook met vier oorwinnings, maar ná ses wedstryde.
Gerrie Snyman is tot dusver die voorste lopiemaker vir Namibië (247 in vyf kolfbeurte; gemiddeld 61.75; kolftempo 109.78) en negende op die toernooi se algehele lys. Nicky Buys (151 lopies in vier kolfbeurte; gemiddeld 37.75; kolftempo 122.76) en Henry Hayes (151 in vyf kolfbeurte; gemiddeld 30.20; kolftempo 122.76) het ook hul oomblikke gehad as topkolwers op wie die span staatmaak.
SPANPOGING
Borge wat die Namibiese toer moontlik help maak het, was Nature Travel Africa, Powerline Africa, die Namibiese Toerismeraad, Waldschmidt Eggs, Dulux Namibia, MR24, die Veteranekrieketvereniging van Namibia, Sport Wrap en Schoemans.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article