Masilingi vind voete in Steenbokkies se wenspan
Beatrice Masilingi se toetrede tot sewesrugby ná haar uittrede as internasionale naelloper was een van verskeie blywende indrukke van die naweek se Ongos Valley sewestoernooi in die Hage Geingob-stadion.
Die 23-jarige Masilingi is ontnugter deur Wêreldatletiek se growwe publieke hantering van die tienerjarige Olimpiese 200 meter-finalis, en lyk op koers vir ‘n suksesvolle oorskakeling na rugby – klaarblyklik een van haar eerste liefdes vandat sy as ‘n meisie naby Rundu grootgeword het.
Haar debuutwedstryd vir FNB Unam Steenbokkies teen FNB Wanderers het nie watwonders verloop nie, met duidelike senuagtigheid en ongedwonge foute. Masilingi het egter algaande beter in die spansport ingeskakel en het die skare in die finaal teen die einste Wanderers met drie drieë vermaak.
Unam Steenbokkies het die eindstryd met 49-0 oorheers, met nog drie drieë deur die flink heelagter Ivone Kooper en een deur Helena Shuumbwa, wat almal verdoel is.
• In die manskompetisie het FNB Kudus ‘n goeie toernooi beleef en het die eindstryd teen FNB Rehoboth met 31-7 gewen.
Drieë deur Ja-Tamson van der Berg, Nathan Jansen, Virgil Bampton, Quirione Majiedt en Barron van Wyk, asook drie doelskoppe deur Aurelio Plato het die uitslag bo twyfel gestel.
Die res van Kudus se wennersgroep was Uutara Uaaka, Franco Vries, Rayshawn Shoombe, Lucio Isaaks, Nathan Jansen, Henrick van Schalkwyk, Virgil Bampton, Josh Visagie, Sheron Rossouw en Quirione Majiedt.
Rehoboth het sy semifinaal teen FNB Western Suburbs met 38-28 oorleef, terwyl Kudus sy halfeindstryd teen die besoekende titelhouers van die Boland, Witz Barbarians, dramaties met 17-15 beklink het.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article