• Home
  • Sport
  • Kustemperature sal hoër klim tydens Swakop-tydren

Kustemperature sal hoër klim tydens Swakop-tydren

Motrorsport
'n Paar bekende trekpleisters is wel afwesig, maar daar is vir seker steeds 'n skouspel om na uit te sien.
Tielman Van Lill
Die Walvisbaai-motorklub se uiters gewilde Swakop-tydren – die eerste ronde van die Namibiese nasionale tydrenkampioenskapsreeks – vind komende Saterdag by laasgenoemde kusdorp plaas.

Die nege spesiale sneldele (SS’e) op die roete van 92.3 kilometer sal vanaf 10:00 aan spanne in die sedanklas (S1 tot S4) en Off Road-afdeling (CR1 en CR2) die perfekte uitdaging bied.

Met blitsige kort trajekte van so kort as 4.49 km, tot langer uitdagende sneldele van meer as 16 km, sal die spanne op moeilike terrein deurgaans hul beste voetjie moet voorsit.

Dat dié byeenkoms opnuut goed deur die plaaslike inwoners en binnelandse besoekers ondersteun gaan word, is nie te betwyfel nie. Vir enige petrolkoppe en tydrenentoesiaste bied die Swakop-tydren met sy toeganklike en goed beplande trajekte vuurwarm en kykervriendelike aksie.

Die S2-klas het verreweg die meeste spanne, gevolg deur S1 met twee spanne en een deelnemer in die S4-klas. Strawwe mededinging word in die S2-afdeling voorspel.

Peer Röhm is terug met ’n Ford Escort nadat sy VW Polo nie aan sy vereistes voldoen het nie. Zachary Martin gaan nie goedsmoeds vir enige kompetisie terugstaan nie en dan moet Wido Bartsch ook in gedagte gehou word.

Die rose tussen die dorings sal die byeenkoms natuurlik met keurige vroulikheid kleur gee. Madeleine Koegelenberg en Tivian von Weidts, asook Stefanie Botha en Mandi Hugo is volwaardige vrou-spanne. Die vier vroue-navigators met mans as bestuurders is Anique Schoeman, Chané Havenga, Christel Fourie en Lara du Plessis.

Jaers wie se teenwoordigheid gemis gaan word, is Allan Martin, Wilro Dippenaar en Jaco Redelinghuys, wat normaalweg in die S4-klas gejaag het. Rian Kritzinger in sy 4x4-Ford Ranger V8 is gewoonlik ’n moet in die Off Road-klas. Hopelik sal die manne gou hul terugkeer maak as ’n trekpleister vir hul ondersteuners.

En moenie die S1-spanne weggooi nie. Pieter “Mnr. Betroubaar” Greeff en sy jarelange navigator, JP Robinson, sal Mohatu (Toyota Corolla) meesterlik inspan om Dewet en Lara du Plessis te probeer uitoorlê.

Dis altyd aangenaam om ’n V8-silinder te hoor brul, ongeag of dit in die CR1- of CR2-klas is. Vier spanne gaan ondersteuners met ’n agtsilinder-simfonie soos min bederf.

’n Interessante tweestryd tussen Loic Bathfield en Jandré Dippenaar gaan in die CR2-resies opgedis word en moenie vir Ewald en Hein Bisschoff in die CR1-kompetisie onderskat nie. Hulle sal Ekko Eisenberg moet tem.

’n Tweede 4x4-JAC-bakkie met ’n V8-enjin word gebou en sal iewers in 2024 sy verskyning met Stefan Labuschagne agter die stuurwiel maak. Labuchagne se V8 Landy ondergaan tans meganiese-chirurgie en kan binnekort op die tydrentoneel verskyn.

Die tydren begin Saterdag 10:00 by Steckel’s Toyota in die dorp. Bekende trajekte soos Martin Luther 1 (SS1, 4.49 km), Lughawe (SS2, 9.25 km), Rent A Drum (SS3, 11.53 km), Daggabos Long (SS4, 11.62 km), Soutpan (SS5, 5.77 km), Die Pyplyn (SS6, 16.25 km), Martin Luther 2 (SS7, 4.49 km), MX Long (SS8, 16.33 km) en Nonidas (SS9, 12.63 km) is op die program.

Tot dusver is sestien inskrywings vir beide klasse ontvang, maar soos in die verlede kan jeukerigheid steeds meebring dat meer ryers vir die uitdaging hul name in die hoed gooi.



INGESKREWE SPANNE

S1 (2x4, 1.6 L): Pieter Greeff/JP Robinson (Toyota Corolla), Dewet du Plessis/Lara du Plessis (Toyota Corolla).

S2 (2x4, 2L): Zachary Martin/Anique Schoeman (VW Polo), Wido Bartsch/Raymond Fourie (VW Polo), Gert Coetzee/Dalton Bezuidenhout (VW Golf), Peer Röhm/Pieter Steyn (Ford Escort MK2).

S4 (4x4): Stefanie Botha/Mandi Hugo (Subaru WRX STi).

Off-Road CR1-klas (2x4): Willie Schoeman/Chané Havenga (Toyota Hilux GD6), Madeleine Koegelenberg/Tivian von Weidts (Ford Courier V6), Ekko Eisenberg/Razzie Rietz (JAC V8), Ewald Bisschoff/Hein Bisschoff (Toyota Hilux V8), Koos Coetzer/Jaco Coetzer (Ford Cortina).

Off-Road CR2-klas (4x4): Loic Bathfield/Johan Steyn (Century Racing CR6 V8), Paul Ackerman/Werner Kinear (Polaris RZR), Jandré Dippenaar/Gielie Visser (Toyota Hilux V8), Werner Bartsch/Christel Fourie (Ford Courier V6).

Die Swakop-tydren word deur Steckel’s Toyota, Gunite Pools, Hardap Freight Services, J&P Hydraulics, Safewear Namibia, sealconsultingengineers en Sky-Way Fuels ondersteun.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-05-09

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta Katima Mulilo: 13° | 33° Rundu: 14° | 33° Eenhana: 15° | 34° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 17° | 32° Otjiwarongo: 15° | 31° Omaruru: 19° | 33° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 16° | 30° Henties Bay: 15° | 18° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 10:06, High tide: 04:02, Low Tide: 22:18, High tide: 16:30 Swakopmund: 15° | 17° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 04:00, Low Tide: 22:16, High tide: 16:28 Walvis Bay: 15° | 21° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 03:59, Low Tide: 22:16, High tide: 16:27 Rehoboth: 18° | 30° Mariental: 22° | 32° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 12° | 22° Ariamsvlei: 16° | 31° Oranjemund: 10° | 18° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 14° | 29° Lubumbashi: 15° | 28° Mbabane: 14° | 30° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 11° | 22° Lilongwe: 16° | 27° Maputo: 17° | 31° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 13° | 16° Durban: 20° | 33° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 23° | 30° Lusaka: 15° | 28° Harare: 13° | 27° #N/A #N/A