Keetmanshoop Rams deur na semifinaal
Die Keetmanshoop Rams het Saterdag hul plek in die halfeindstryd van die Namibië Rugbyunie (NRU) se eersteliga bespreek met ’n swaarverdiende oorwinning van 43-24 oor Eastern Bulls by die Krönlein-stadion in Keetmanshoop.
Die halfeindstryde word komende Saterdag by die Hage Geingob-stadion in Windhoek gespeel, met die eindstryd wat vir 19 September by dieselfde stadion geskeduleer is.
Die Rams, wat boaan die eersteliga se gekombineerde puntelys geëindig het, sal in die halfeindstryd teen Oceans te staan kom (afskoptyd 13:30), nadat Oceans hul Walvisbaaise buurklub Sparta met 23-17 geklop het.
Okahandja Highlanders het voor die naweek aan hul kwarteindstryd teen Oranjemund onttrek weens ’n gebrek aan fondse vir die reis.
Oranjemund sal teen die Vipers van Windhoek speel (afskop 15:30), nadat laasgenoemde vir Vikings met 24-7 uitgeskakel het.
Die wedstryd in Keetmanshoop het ’n vinnige tempo en altesaam tien drieë opgelewer, wat die toeskouers deurgaans op hul voete gehou het.
“Ek kan nie die gevoel beskryf nie,” het Shaun Aimee, kaptein en heelagter van Keetmanshoop Rams, gesê.
“Ons het baie hard gewerk en die oorwinning is welverdiend. Ons het ons bes gelewer. Ons het in die eerste helfte gesukkel en eers in die tweede helfte ons spel begin speel. Ons fiksheid het ons deurgedra. Ons het ’n gesegde: ‘Ons huis, ons reëls’.”
Aimee sê die span sal dieselfde benadering volg in hul voorbereiding vir die halfeindstryd.
“Ek glo, ons glo, en met toewyding en deursettingsvermoë sal die onmoontlike moontlik word. Ons het in die 2019-eindstryd teen Grootfontein verloor en wil graag daarvoor vergoed,” het hy gesê.
Marcus Shikongo, afrigter van Eastern Bulls, het hul teenstanders gelukgewens.
“Hulle het die kanse wat hulle geskep het, goed benut. Sommige van ons spelers het beserings opgedoen en ons het nie genoeg plaasvervangers beskikbaar gehad nie. Dit het ons uiteindelik duur te staan gekom,” het hy gesê.
Vroeë deurbraak
Keetmanshoop Rams het in die tweede minuut die eerste punte aangeteken en altesaam sewe drieë gedruk. Die binnesenter Hieno Keister en agtsteman Gio-Mario Morkel het elk twee keer gaan druk, terwyl die senter Ivor Stein, flank David van Schalkwyk en slot Valintino Tiboth ook vir die Rams oor die doellyn gebars het. Die losskakel Marck Sauls het vier van hul sewe drieë verdoel.
Die flank Vakomboka Kamboa het twee drieë vir Eastern Bulls gedruk, terwyl die regtervleuel Ethan Amamub ook die doellyn oorgesteek het. Kamboa het albei drieë asook ’n strafskop verdoel.
Beide spanne is in die tweede helfte tot 14 spelers verminder nadat die skeidsregter, Robert Bezuidenhout, geelkaarte aan Rams se linkervleuel William Kido vir ’n ongeoorloofde duikslag en Eastern Bulls se Allessandro van Rooyen (vir ’n duikslag sonder om sy arms te gebruik) uitgedeel het.
Oceans 23-17 Sparta
Heelagter Alicno Beneke, linkervleuel Bennett van Wyk en plaasvervanger Irvin Damants het drieë vir Oceans gedruk. Binnesenter Jayden Haidula het al drie drieë verdoel en twee strafskoppe oorgeklits.
Skrumskakel Jordan Strauss, agsteman Lestat Majiedt en loskopstut Uahupa Katjariua het drieë vir Sparta gedruk, terwyl losskakel Bavin Kotzee twee daarvan verdoel het.
Vipers 24-7 Vikings
Vipers se losskakel Keana Jansen het twee drieë gedruk en een verdoel. Heelagter Gertiano Ferus en haker Lukas Maree het ook vir Vipers gedruk, en Duncan Subeb het een drie verdoel.
Agsteman John-Michael Richter het Vikings se enigste drie gedruk, wat deur skrumskakel Derrick Human verdoel is.



Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article