• Home
  • Sport
  • Dolphin se helde ná sege teen Unam geprys

Dolphin se helde ná sege teen Unam geprys

Klubrugby
Waarnemers beskou Saterdag se oorwinning as die grootste prestasie in Dolphin se geskiedenis, wat eers ná 2024 die hoër trap vanaf die eersteliga geklim het.
Andrew Poolman

FNB Dolphin het vanjaar hom toenemend tuis in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga begin maak, maar hul aansien was nog nooit so hoog as ná laas Saterdag se bonuspuntsege met 27-12 teen die FNB Universiteit van Namibië nie.

Afrigter Hauta Veii se span het laas jaar sy debuut in die premierliga gemaak en negende uit nege spanne klaargemaak, met ’n punteverskil van minus-256 punte ná die enkelrondte van agt wedstryde.

Saterdag by die klub se Tamariskia-veld op Swakopmund het Dolphin in alle waarskynlikheid die grootste oorwinning in die klub se bestaan behaal. Oorwinnings vroeër in die seisoen teen FNB Reho Falcon (42-29 in die wegwedstryd; asook die tuiswedstryd toe Falcon vooraf onttrek het), FNB Rehoboth (56-14 op Swakopmund) en FNB Western Suburbs (45-21 op Swakopmund) is behaal teen klubs wat tevore die klubkampioene van Namibië was – maar Unam bly verreweg hul mees hoëprofiel slagoffer sover, met die studente se driekuns van titels in 2015, 2016 en 2017 steeds vars in die geheue.

Dan was daar ook waarskuwingskote in hul vertonings op Grootfontein, waar Dolphin met 36-41 ‘n verloorbonuspunt behaal het, en dieselfde by Rehoboth-rugbyklub (29-35).

Veii (wat self in sy speeldae as stut in Unam se kampioenspan was) en sy mede-afrigters Jaco Barnard en Jean Potgieter het die Swakopmunders se vlak gehelp lig tot hul huidige respektabele sesde plek op die puntelys – steeds agter Unam (vyfde), maar voor Rehoboth (sewende), Reho Falcon (agtste) en Western Suburbs (negende).

Drieë deur die vleuels Vaino Gamatham en Antonio Titus, skrumskakel Reginald Brendell en flank Vijanda Ndakolo het die Windhoekers gehelp sink, terwyl losskakel Maughan Jarman met een doelskop geslaag het.

Veii vertel: “Ons het van die begin af voorgeloop. ’n Hele paar spelers het uitgestaan met sterk vertonings. Maughan Jarman op nommer 10 het baie goed gevaar. Verskeie kere was dit sy baie akkurate aangeewerk wat tot drieë gelei het. Sy taktiese skopwerk was ook baie goed.

“Voorlangs het ons baie goed gedoen. Mbiri Mbai (slot) het ongelukkig vroeg in die tweede helfte met ’n kniebesering afgegaan, maar hy het groot impak gehad met sy fisieke teenwoordigheid. Paar groot duikslae uitgevoer wat Unam se momentum gekeer het.

“Cameron Markus (agtsteman) is in die eerste helfte ook met ’n besering af, maar hy was ook baie sterk vir ons met sy kenmerkende harde stormlope. Vijanda Tjikotoke op flank het naby aan 20 duikslae uitgevoer, ’n hele paar keer goed die bal gedra en ook ’n drie gedruk.

“Ons het ’n paar strafskoppe by skrums afgedwing en ons kaptein vir die dag, Ouboer Geinub, was dominant in die skrums. Hy het van voor af gelei – meer as tien duikslae vir ’n stut is ’n groot skof.

“Die tema vir die wedstryd vir ons was vir elke speler om sy eie vertoning na ’n hoër standaard te lig. Ons fokus veral op elkeen se werktempo. En hulle het. Die agterlyn was baie goed ook.

“Unam se buitesenter was ’n handvol; hy het ’n paar keer deur die lyn gebreek en twee keer moes Maughan hom sentimeters van die doellyn af van agter af plattrek. Hy het definitief vir hulle sterk uitgestaan.

“Jayden Links (sesflank van Unam) het ook meer as tien keer die bal gedra en het homself ’n paar keer teen harde manne soos Mbiri Mbai en Conwill Draghoender vasgeloop, maar hy was by elke volgende geleentheid weer op sy voete en ywerig om weer te storm. Baie goeie karakter gewys.

“McHenry Kambatuku (Unam-flank) het sterk begin, maar was met besering ook redelik vroeg in die wedstryd van die veld af so dit het hulle ook affekteer.

“Ek sou sê die groot verskil was die werkvermoë wat Dolphin se manne gewys het. Ek is baie trots op hulle. Dié wen is baie, baie belangrik vir ons.”

Unam se spankeuse gee ‘n aanduiding dat hy sy fokus wil begin verskuif na die NRU reserweliga, waarin sy tweedespan wel ‘n aanspraakmaker vir die semifinale sal wees, terwyl die eerstespan nie meer hoër as vyfde kan klaarmaak nie.

Unam se driedrukker teen Dolphin was linkervleuel Don-Juan Beukes, asook ‘n strafdrie.

 

United terug op wenpad

Montego United het Vrydagaand sy tuiswedstryd teen Western Suburbs met 52-26 by Gemsbokpark in Olympia gewen.

United het agt drieë gedruk om die maksimum van ses ligapunte in te palm en het dus na die tweede plek op die punteleer opgeskuif, voor Saterdag se wedstryd op Walvisbaai waarin Wanderers (eerste) verhinder het dat Kudus (nou derde) enige punt kon byvoeg.

United het ook sake reggestel ná hul nederlaag die vorige naweek by die Unam-stadion (12-37).

Die vleuel Soobramoney Sammy (2) en senter Suramie Kambombo (2) het drieë vir die wenspan gedruk, tesame met die heelagter Jurgen Meyer, vleuel Irongwa Atshivudhi, flank en kaptein JD Nel, en agsteman Zander Bronkhorst. Ses doelskoppe deur skrumskakel Enrique Husselmann was suksesvol.

Die besoekers van Khomasdal het vier drieë gedruk, deur agsteman Nzola-Menza Nkunku (2), die veteraan Justin Nel (wat van die reserwebank af opgestuur is) en linkervleuel James Matroos. Drie doelskoppe is deur heelagter Wyatt Brooks bygevoeg.

• FNB Reho Falcon het laas week uit sy wegwedstryd teen FNB Grootfontein onttrek. Grootfontein kry dus ‘n wentelling van 49-0 en die volle bonuspunte, terwyl ses van Falcon afgetrek is.

• Wanderers verslaan Kudus, wedstrydverslag op bladsy 3.

• Bly op die hoogte van uitslae, komende wedstryde en die premierliga se puntestand by www.nrurugby.my.na/

Comments

Namibian Sun 2026-09-14

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment