Skaak inspireer leerling

‘Help om analities en logies te dink’
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg



Die 18-jarige Penny Campbell is onlangs as die land se eerste vroulike Fide-skaakontwikkelingsinstrukteur geregistreer.

Campbell is tans in graad 12 aan die Privaatskool Elnatan en het by haar ma geleer om skaak te speel.

“Ek het saam met my ma by die huis begin speel waar sy my net die basiese reëls geleer het soos hoe die stukke op die bord beweeg, hoe die bord gepak moet word en hoe die spel werk. Ek het van graad 3 af begin skaak speel saam met 'n medeskolier, Nico Brand, wat my gehelp het,” sê sy.

In graad 4 het die skool hulle eerste skaakafrigter, me. Alta Thorburn, gekry.

“My passie vir die spel het begin toe ek eers nie vir die span gekies is nie, wat my gemotiveer het om te verbeter. My liefde vir skaak het gegroei toe mnr. Jaco Schutte ons na ons eerste amptelike streekstoernooi geneem het, waarna ek deur is na die nasio­nale skaaktoernooi in Windhoek toe ek o.16 was,” sê Campbell.

“Dit was vir my 'n groot verrassing om te hoor ek is geregistreer as 'n ontwikkelingsinstrukteur (DI) ná die aanlyn kursus wat ek geneem het. In die kursus het ons Zoom-lesse ontvang van groot skaakspelers, soos grootmeester (GM) Dejan Bojkov en Fide-meester (FM) Peter Long.”

Elke les was omtrent twee uur lank en verskillende onderwerpe soos openingskuiwe, opleiding in bereke­ning, gevorderde taktiek, basiese eindspelbeginsels, eindspel-opleiding, ontleding van eie spel, bestudering van klassieke spel en strategiese patrone is bespreek.

'n Ontwikkelingsinstrukteur help beginners-, elementêre, middel- en ontspanningsvlakspelers. Campbell is verantwoordelik om die liefde vir skaak onder kinders te help kweek en hulle stelselmatig op 'n mededingende vlak te bring.

Ontwikkelingsinstrukteurs moet minstens 1 400 skaakwedstryde beoordeel en die Fide-skaakreëls ken.



Passie vir skaak gekweek

“Ek wil graag die kinders by my skool soveel help soos wat ek kan terwyl ek nog daar is sodat skaak by ons skool aanhou groei. Ek het die kursus geneem omdat ek ander mense wil help om ook te sien hoe wonderlik skaak is en wat dit alles vir 'n mens kan doen,” sê Campbell.

“Skaak het my geleer hoe om geduldig te wees, ontledend en logies te dink en met probleemoplossing. Dit het my basiese beginsels geword waarvolgens ek myself en die wêreld sien en hoe ek dinge doen. Dit het my geleer daar is altyd twee kante van 'n saak of 'n probleem.”

Campbell voel sy sukkel soms met blitsskaak en verkies die klassieke drieuur-wedstryde of enige “rapid”-sessies wat 20 minute of langer is.

“Dit neem langer om my probleme op te los, omdat ek dit in meer detail ondersoek en met myself bespreek. Maar selfs dít help my om die beste keuse volgende te maak, al is dit een van my swak eienskappe in skaak.”

Campbell voel dit is belangrik vir kinders om skaak te speel, want dit ontwikkel die brein en spoor meer logiese en ontledende denke aan. Sy meen skaak kan kinders in die toekoms help met besluitneming en keuses oor hulle toekomsplanne.

“My hoogtepunte in skaak het begin toe ek die o.16-meisies nasionale toer­nooi in Windhoek gewen het. Dit was die begin van vele interessante plekke waarheen ek getoer het.”

Campbell het in 2018 in Kenia aan die African Youth Chess Championships (AYCC) deelgeneem waar sy 11de in die gesamentlike o.16- en o.18-kategorie vir meisies geëindig het.

Dieselfde jaar is sy 69ste ter wêreld onder die o.16-meisies by die sport se wêreldjeugkampioenskap (WYCC) in Griekeland geplaas.

“Ek het weer in 2019 aan die AYCC in Namibië deelgeneem en die tiende plek in die o.18-kategorie behaal. Ek het ook weer aan die WYCC deelgeneem wat toe in Indië aangebied is en 60ste in die o.18-meisies groep in die wêreld geëindig.”

Campbell is dieselfde jaar genooi na die African Individual Schools Chess Championships (AISCC) in Kampala, Uganda, waar sy eerste in die o.18-meisiesgroep geëindig het.

“Die AISCC was my grootste prestasie en ek is dankbaar vir mnr. Schutte wat my ondersteun en gehelp het om my spel te verbeter. Sonder sy moeite sou ek dit nie kon doen nie.”

Die skaakpresident van Namibië het haar genooi om aan 'n kursus deel te neem wat deur 'n grootmeester van Amerika spesifiek vir vroue aangebied is.

“Die kursus leer jou hoe om jou openingskuiwe en jou middel- en eindspel te verbeter. Dis soos 'n selfverbeteringskursus waarna 'n kort toernooi opgestel word tussen die meisies wat die kursus bygewoon het.”

Die deelnemers kry daarna twee weke voor die volgende les om hulself te verbeter.

“Vir my is 'n goeie skaakspeler iemand wat kan aanvaar as hy 'n fout gemaak het. As 'n wedstryd ná die toernooi ontleed word, moet jy jou foute kan raaksien en dit kan verbeter, sonder om hardkoppig of grootkop of fyngevoelig te raak. Niemand is verseker van 'n wen in skaak nie. 'n Mens is maar net mens en maak foute, al is jy die beste skaakspeler in die wêreld.”

Campbell voel die wanopvatting dat skaak meer vir mans bedoel is, kan toegeskryf word aan mans wat in die verlede in meer oorloë en gevegte betrokke was.



Skaak is vir almal

“Mans was vroeër beter in skaak as vrouens omdat hul meer ervaring op 'n slagveld gehad het, want dit is maar eintlik wat skaak is. As 'n meisie voel ek dit gee soveel meer rede om dié wanopvatting verkeerd te bewys en vir die wêreld te wys waartoe ek in staat is.”

Die nuwe Netflix-reeks The Queen's Gambit het ook die wêreld aan die gons en Campbell het self daarby aanklank gevind.

“Die manier hoe die weeskind, Beth Harmon, die spel begin leer het, het my passie en liefde vir skaak weer geprikkel. Met dié dat sy haar plafon as 'n denkbeeldige skaakbord gebruik het om haarself te leer speel, het my totaal en al in verwondering gehad,” sê Campbell.

“Sy het nie omgegee dat sy 'n vrou is wat tussen mans speel nie. Dit het my weer laat besef skaak gaan nie oor geslag nie, maar oor wie die beter logiese speler op die bord is. Dit het my geïnspireer om te verbeter as 'n vroulike skaakspeler en Beth Harmon het my geleer enigiets is moontlik as jy hard genoeg werk.”

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-04-20

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!