Namibiese graad 1 wen foto-kompetisie
Namibiese graad 1 wen foto-kompetisie

Namibiese graad 1 wen foto-kompetisie

JUSTISIA SHIPENA
Yolanda Nel

Duisende graad 1’tjies het ’n paar weke vantevore vir die eerste keer die grootskool aangedurf, opgewonde maar tog versigtig.

Vir D’Neil Lassen van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) was dit geen uitsondering nie. Hy het noodgedwonge sy skoolskoene vir die eerste skooldagfoto’s aangetrek en half skaam en senuweeagtig vir die kamera geglimlag.

En hierdie skewe glimlag het vir D’Neil vroeër van week ’n stewige N$1 000 in sy sak besorg. Volgens sy ma, Marideen, het sy op Maroela Media gesien daar is ’n kompetisie vir die eerste skooldagfoto. “Ek het op nommer 99 vir die kompetisie ingeskryf en ’n groot kans gewaag,” vertel sy. “Ek het geensins gedink Namibiërs staan ’n kan te wen uit die duisende kinders in Suid-Afrika nie.”

D’Neil was aanvanklik skaam in omdat hy nie die maatjies in sy klas geken het nie, maar ’n paar weke later het hy vinnig aangepas. “Hy hou van skool, en die maats en juffrou is baie beïndruk dat hy al kan lees,” vertel Marideen en voeg by, “maar huiswerk is nie vir hom lekker nie.”

Met die wengeld het die graad 1’tjie ’n bergfiets in die oog, “en hy moet nóg spaar om dit te kan koop, maar die wengeld maak darem die proses korter.”

Volgens Maroela Media was D’Neil besig om buite met ’n maatjie te speel toe sy ma die nuus kry dat hy gewen het. Sy het hom geroep en hy was uit sy vel van blydskap oor dié nuus.

Comments

Namibian Sun 2025-07-12

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment