Sakpas idees vir Kersfees

In platsak ekonomiese tye kan jy met ‘n bietjie kreatiwiteit en ‘n slim plan steeds Kersgeskenke gee – en boonop is dit groot pret.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - As jou begroting vanjaar nie veel vir Kersgeskenke toelaat nie en jy ‘n kreatiewe siel is, kan jy dalk handgemaakte soutdeegitems oorweeg. As ‘n ma van ‘n peuter wat ook voltyds werk, kan ek getuig dat hierdie geskenke nie te veel tyd in beslag neem nie en so maklik is dat ouer kinders saam met jou in die pret kan deel.

Boonop is die bestanddele goedkoop en het jy dit dalk reeds in jou kombuiskaste.

As jou begroting ook nie toelaat dat jy jou kunswerke vir ‘n paar uur in die oond kan laat bak om hard te word nie, kan jy dit ook vir ‘n paar dae op ‘n droë veilige plek los om self droog en hard te word. Die laasgenoemde opsie is in die geval van al die kunswerke in hierdie artikel toegepas. Dié metode neem wel langer, maar werk ewe goed.

Vir hierdie vyf projekte benodig jy kreatiewe denke, koekiedrukkers (of kinders se speelgoed wat vorms kan uitdruk of sommer jou vrye hand), ‘n bietjie verf en afhangende van watter projek jy aanpak, dalk ook lint, tou, garing, vislyn en kersies.

RESEP VIR SOUTDEEG

Bestanddele:

1. Twee koppies koekmeel

2. Twee koppies fyn sout

3. Een koppie louwarm water

Gooi al die bestandele bymekaar en meng. Knie die deeg ‘n bietjie – net om dit goed te meng. As die deeg te droog word, kan jy jou hande natmaak en dit weer druk en vorm met jou hande – dan word dit sommer vinnig weer sag. Moet verkieslik nie nog water by die deeg gooi nie.

Indien jy meer deeg wil aanmaak, verhoog die bestanddele proporsioneel. Soutdeeg kan ook in ‘n lugdigte houer of plastieksak, waarvan al die lug uitgedruk is, vir maande lank in die yskas gebêre word.

Die deeg kan soortgelyk aan die meeste soorte klei hanteer word. Rol dit dun uit om vormpies met koekievorms uit te druk of sommer met ‘n mes uit te sny, of rol bolletjies en ander vorms om die kunswerk van jou keuse te maak.

DROOG DIT SÓ

Jy kan jou kunswerke uitdroog deur dit te bak of iewers veilig vir sowat ‘n week te los sodat dit self kan droogword. Dikker, meer pofferige ornamente of kunswerke neem langer om droog en hard te word, terwyl platter en dunner kunswerke binne vier dae kurkdroog en gereed kan wees om geverf te word.

Al die soutdeeg-ornamente in hierdie voorbeeld is in luggedroog – juis om koste te bespaar.

Dié wat haastiger is, kan soutdeeg kunswerke in ‘n gewone oond teen sowat 100 °C bak. Hoe lank dit gebak moet word, hang weereens af van die dikte van jou kunswerke. Dit kan enige iets tussen tien minute vir dun voorwerpe, tot verskeie ure vir dikker voorwerpe neem.

Hou egter die oond dop sodat die soutdeeg nie brand nie en laat dit heeltemal afkoel voor jy dit verf.

KERSBOOM-VERSIERINGS

Hierdie is ‘n maklike projek wat jy ook saam met die kinders kan aanpak. Die sterretjies in die draadboom herinner aan ‘n Afrika-Kersfees en die “kers-huisies” vertoon pragtig as die son sak en ‘n kers daarbinne geplaas word.

Jy kan enige Kersboom van jou keuse gebruik. Fyn feëtjieligte (opsioneel) is gebruik om die boom te versier.

Sterretjie-vormpies is met ‘n koekiedrukker uit uitgerolde soutdeeg gedruk en ‘n gat is in elke ster (vir die garingtoutjie) met ‘n strootjie gemaak.

Vir die “kers-huisies” is langwerpige stroke soutdeeg, wat sowat 7 cm en 5 mm dik is, uitgesny. Gate is met die strootjie en ander koekiedrukkers in die stroke gemaak. Om droog te word, is die stroke rondom ronde voorwerpe soos bekers gedraai sodat dit ‘n ronde vorm kan aanneem.

Die items is uitgedroog en die sterre is daarna geel en goud geverf. Ná die verf droog was, is garingtoutjies deur die sterre se gate geryg en geknoop, sodat dit aan ‘n Kersboom kan hang.

Die ‘kers-huisies’ kan ook geverf word, alhoewel dit nie in die voorbeeld nie gedoen is nie. Die huisies vertoon betowerend mooi as jy dit saans op ‘n tafel met ‘n kers daarbinne plaas, en dit sal beslis oud en jonk bekoor.

MY HANDJIE-OF VOETJIE

Hierdie is ‘n ideale geskenk vir ‘n oupa of ouma en is baie eenvoudig om te maak.

Rol soutdeeg plat uit, sny groot genoeg sirkels of blokke daaruit en laat jou kinders hul handjies en voete daarop druk. Onthou ook om gatjies met ‘n strooitjie te druk as jy wil hê die kunswerk moet teen ‘n muur of aan ‘n Kersboom gehang kan word.

Pasop om die deeg nie té dun uit te rol nie, want dan kan dit maklik breek as dit uitdroog. Maak seker jy droog dit op ‘n gelyke oppervlak uit.

Die hand- en voet-afdrukke op die vorms kan ‘n ander kleur geverf word om dit beter te laat uitstaan. Sommige mense skryf ook hul kinders se name en ouderdomme binne die afdrukke.

In die voorbeeld is nog sirkels uitgedruk, wat onderaan die handjie-vorm met vislyn gehang is. Die handjie-gedeelte het ‘n grastou bo-aan gekry, waarmee dit teen ‘n muur opgehang kan word.

Indien die strooitjie-gate te klein is, kan jy dit versigtig groter uitkerf met ‘n mes.

MUURBEHANGSEL

Hierdie muurbehangsel ook as ‘n Kersgeskenk gegee word en iewers gehang word waar dit liggies in die wind kan waai.

In die voorbeeld is blaarvorms met ‘n mes uit dun-uitgerolde soutdeeg gesny. Die blare is sommer met die vry hand gesny en gevorm, voor dit toegelaat is om uit te droog. Onthou om met ‘n strooitjie ‘n gat in elke blaar te druk sodat dit gehang kan word.

Die sirkelvorm is met ‘n twee ronde vorms van verskillende groottes uitgedruk. Die ander twee vormpies is gevorm deur deeg in ‘n bolletjie te rol, voor ‘n strootjie deur die middel daarvan gedruk is.

Nadat al die vorms goed droog en hard was, is dit geverf. ‘n Stuk hout is ook wit geverf en die blare en ander vorms is met vislyn daaraan vasgemaak.

BADKAMERORNAMENTE

Hierdie ornamente is piepklein (sowat 7 cm hoog) en lyk fraai in ‘n badkamer – hetsy op die vensterbank of ‘n kassie. Dit kan ook as ‘n oulike kersgeskenk dien, maar vereis ‘n groter vaardigheid om die soutdeeg met jou hande te kan vorm.

Die kaktus-, seester en halfmens-ornamente is met die hand gevorm deur die deeg langwerpig of rond uit te rol, of sommer net met die vingers te druk totdat dit die gewenste vorm aanneem.

Twee stukke deeg kan aan mekaar vasgeplak word deur ‘n bietjie water op die deeg te smeer – dit maak die deeg klewerig. Plaas dan effense druk op die items sodat die dele aan mekaar moet vassit.

Klein gaatjies vir die versiering van byvoorbeeld die halfmens kan met ‘n tandestokkie gemaak word, terwyl ‘n tafelmes gebruik is om vorms op die ronde voorwerpe uit te druk. Van die ronde voorwerpe se gate in die middel is met ‘n strooitjie gemaak.

Sodra jy die ornamente uitgedroog het, verf dit in die kleure van jou keuse.

GORDYNWEGBINDERS

Gordynwegbinders kos ‘n klein fortuin in die meeste winkels, maar met soutdeeg kan jy pragtige, unieke wegbinders maak wat boonop spotgoedkoop is. Hierdie kan ook as ‘n Kersgeskenk gegee word en is baie eenvoudig om te maak.

Die blaarvorms in die eerste voorbeeld is met ‘n skerp mes uit dun uitgerolde soutdeeg gesny. Die plat, ronde vorms is met ‘n glas uitgedruk, waarna voorwerpe met patrone op gebruik is om tekstuur daarop uit te druk. Onthou om gate met ‘n strooitjie in die al die vorms te maak sodat ‘n lint of tou daardeur geryg kan word.

In die voorbeeld is deeg ook in bolletjies gerol en gate is deur die middel met ‘n strootjie gedruk.

Sodra die items droog en hard is, kan jy dit verf. Verder benodig jy tou of lint, wat jy moet dubbel vou en ‘n knoop met die punte maak. Gebruik dan iets soos ‘n haarpennetjie en ryg die lint of tou deur die gate van die voorwerpe.

Die dun strooitjie-gate in die blare en ander voorwerpe, tesame met ‘n dikkerige tou of lint, help die blare en sirkels om op een plek aan die tou te bly. Dit skuif dus nie als af en gaan hang aan die onderkant daarvan nie.

In die voorbeeld word die gordyn deur die lus van die tou geplaas en die blare word boontoe geskuif om die gordyn stywer met die tou vas te trek.

Comments

Namibian Sun 2024-04-20

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!