Die kuns in herwinning

Cota-studente omskep rommel in reënboë

11 June 2019 | Education

Ricardo Vries en Kuzivakwashe Chowa

Die Kunstekollege van Namibië (Cota) het in samewerking met Namibia Media Holdings (NMH) visuele kunswerke van sy studente by die onlangse 2019 Namibië Toerisme Ekspo (NTE) in Windhoek bemark.

Dié kunswerke is van onder meer plastiek, papier en afvaldraad gemaak. Tydens die NTE, wat vanaf 5 tot 8 Junie by die Windhoekse skouterrein plaasgevind het, is die beelde aanlyn opgeveil. Die winste van die veiling beloop ongeveer N$3 800, wat aan Cota geskenk is.

Die idee vir hierdie veiling het sy oorsprong gevind in die finansiële nood van die studente wat sukkel om modules te betaal en materiaal te bekostig om hul kunswerke of projekte te begin.

Oscar Katewa se beeld genaamd Talent in Hand is as die wenner aangewys.

“Hierdie toekenning beteken só baie vir my. Dit beteken dat ek die strate moet invaar en die boodskap aan mense oordra dat jy kuns uit enige iets kan maak.” Sy prys is een termyn se klasgeld by Cota wat vir hom betaal word.

Altesaam 12 beelde tydens die ekspo opgeveil.

Volgens Alexander Fase, produksie-ontwerper en opleidingsbeampte by NMH, kon potensiële kopers aanlyn ‘n bod maak.

“’n Mens gooi nie net weg nie. Wanneer jy iets weggooi, moet dit êrens heen gaan waar dit optimaal gebruik kan word. Herwinning is die regte ding om te doen,” het Veiko Ndumba, een van die Cota-studente, gesê.

Juis om hierdie rede het die studente besluit om ’n innoverende manier te vind om beelde te skep om Namibië as ’n verantwoordelike en skoon land met betrekking tot herwinning te bemark.

Duisende voete het deur die loop van die ekspo oor die terrein beweeg. Dit het aan studente ’n ongelooflike platform vir hul kuns gegee.

Ndumba het gesê visuele kuns is iets wat nie aldag genoeg waardeer word nie. “Baie min mense het ’n behoorlike begrip van dié veld.”

Volgens Ndumba staar Cota soms uitdagings in die gesig, waarvan een die gebrek aan finansiering is.

Iyaloo Hamukoto, ’n eerstejaarstudent by Cota, stem saam met Ndumba, en sê daarmee saam kry visuele kuns baie min blootstelling. “Dit is nie net ’n probleem wat in Namibië ervaar word nie, maar word orals aangetref.”

Die studente het gesê die inisiatief word opreg waardeer, veral omdat dit hulle die moontlikheid bied om hul projekte en talente ten toon te stel.