Die impak van Wake Up

Buig die boompie terwyl dit jonk is

25 February 2020 | Youth

Justicia Shipena

Volgens kundiges vind 90% van alle breinontwikkeling op die ouderdom van vyf plaas. Die Wake Up-dagsorg en -kleuterskool is in die hartjie van Otjomuise in Windhoek geleë met ses permanente onderwysers wat daarna strewe om vroeë kinderopvoeding en -ontwikkeling in Namibië te ondersteun en bevorder.

Die skool het sy deure in 2010 onder die vaandel van die Penduka Daycare Centre Trust oopgemaak, maar is vandag ’n onafhanklike skool.

Wake Up is gebore uit ’n fondsinsameling-inisiatief van die Lions Club Regte Heide in Brabant, Nederland. Die fondse is deur twee finansierings organisasies, Wilde Ganzen en Cordaid, voorsien.

Teen Januarie 2010 was twee klaskamers, ’n kantoor, stoorkamer, kombuis en saal gebou.

Me. Jolandi Seibes, die skoolhoof van Wake Up, het aan The Zone gesê die skool se uniekheid kan aan die Montessori-sillabus wat hulle volg toegeskryf word. Hierdie sillabus is deur me. Maria Montessori, ’n Italiaanse dokter en opvoedkundige, ontwikkel.

“Die Montessori onderwysstelsel fokus op ’n praktiese benadering tot onderwys waar die fokus meer op die leerling se gebruik van sy tassintuig is. Die leerlinge gebruik dus gevoel om iets te onthou,” het Seibes bygevoeg.

Seibes sê verder peuters se onderrig begin met die basiese lewensvaardigede soos om water te skink of iets met ’n lepel te eet, en ook vaardighede van hoe om met iets wat knope het te werk.

“Vir volwassenes lyk die aanleer van hierdie vaardighede dalk onnodig, maar dit speel ’n belangrike rol om aan kinders ’n gevoel van behoort in die gemeenskap te skep. Dit bied ’n sterk grondslag vir onderrig wat kinders ook in die toekoms kan toepas.”

Seibes noem ook dat die voorskoolse leerlinge vakke soos aardrykskunde, biologie, dierkunde en verskeie ander leer wat aan die leerlinge beide praktiese- en teoretiese onderrig bied.

Volgens Seibes is een van die skool se uitdagings kinders wat te laat in die skool geplaas word. “Wanneer kinders eers op die ouderdom van vier of vyf in die skool geplaas word, veroorsaak dit soms taal hindernisse en ken die kinders ook nie die basiese vaardighede nie.”

Me. Talitha Ndengu, een van die onderwysers wat al die afgelope 10 jaar by Wake Up skoolgee, sê die prestasies van haar leerlinge is iets wat elke dag ’n glimlag op haar gesig sit.

“Ons wil hê kinders moet iets kan bereik sodra hulle klaarmaak by ons en ’n toekoms vir hulself kan skep,” het Ndengu gesê.

Ndengu waardeer die positiewe terugvoer van die ouers oor die leerlinge se vordering as hulle by laerskole ingeskryf word.

Me. Hertha Iipinge, ’n ouer wie se kind onlangs by die skool aangesluit het, geniet die ervaring en kan reeds ’n groot verandering in haar kind se lewe sien.

“Wanneer sy in die huis rondhardloop en die verskillende kleure kan uitwys waaroor hulle geleer het, sien jy regtig die impak van die skool se onderrig. Sy is maar net twee haar oud, maar sy weet reeds hoe om te tel en ken ook haar alfabet.”